Mat 26:26. En terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem en die seën gevra. Daarna het Hy dit gebreek en vir sy dissipels gegee met die woorde: “Neem, eet; dit is my liggaam.”
GEDAGTE
Woensdag het ons gehoor dat daar regdeur die Nuwe Testament ’n viervoudige ritme is by die instel van die Nagmaal: Jesus neem die brood en seën dit (of dank God daarvoor). Daarna breek Jesus die brood en gee dit aan: Neem, seën, breek en gee. Elkeen van hierdie woorde is gelaai met betekenis.
Neem
Jesus neem dit wat ons na Hom toe bring. Ons offer wat ons kan bring: Ons vis, ons duiwe, ons skape. Maar hierdie offer is altyd volledig persoonlik. Dit is ons. Ons sondes en ons deugde, alles wat ons is, selfs as dit nie veel is nie. Augustinus het vir sy nuwe belydende lidmate, kort na belydenisaflegging gesê: “Daar is julle op die tafel – julle is die brood. Daar is julle in die beker – julle is die wyn.” Ons offer onsself en Jesus neem dit aan. Hy weier niks van wie ons is, of wat ons gedoen het nie.
Seën of dank
Wat ons aan Jesus offer, offer Jesus tot God met danksegging. Euchariste, die Engelse woord vir Nagmaal beteken danksegging. God ondersoek ons nie vir foute en swakhede om ons dan te kritiseer of te verwerp nie. Terwyl Jesus die Laaste Maaltyd saam met sy dissipels gevier het, het Hy aan hulle verduidelik dat die brood en die wyn terselfdertyd sy lewe, sy vlees en bloed was en dat hulle deur hulle gebruik daarvan besig was om Hom te ontvang. Tydens die viering van die Nagmaal word ook ons offers, ons sélf, as lewende en heilige offers daarby ingesluit.
Breek
Die geskenke wat ons na die Nagmaalstafel en na God toe bring, bly nie dieselfde nie. Dikwels kom ons vol van onsself by die Here aan. Maar die Jesus wat ons red, ontmasker al ons valshede. By die Nagmaalstafel word ons nie toegelaat om toegesluit, selftevrede en selfgenoegsaam te wees nie. God breek ons trots en valsheid oop en hy open ons vir sy genesings- en verlossingswerk. Wanneer God ons soos brood breek, ontdek ons dat God diep binne ons aan die werk is. Aan die kruis is Jesus se liggaam as ’n offer gebreek sodat sy lewe die verlossing van die wêreld kon word. Hierdie “breek” van die Nagmaal maak dit vir ons onmoontlik om te dink dat ons onsself kan red. Enige selfhelp-programme van verlossing is vanuit die staanspoor verdoem!
Gee
Jesus gee dit wat ons na Hom toe bring terug. Hy gee wie ons is aan ons terug. En ons ontvang wat Hy ons gee. Maar dis nie meer dieselfde “ek” wat ek in die eerste plek na Hom toe gebring het nie. Dit is nou verander in iets wat God gee, waarvan ons sing as “genade, onbeskryflik groot.” Alles wat ons na Jesus toe bring, word teruggegee, maar net oorvloedig en veelvoudig. En só word die lewe van Christus in ons gevorm – die opstandingslewe.
Jesus NEEM
Jesus SEëN
Jesus BREEK
Jesus GEE
GEBED
“Dankie Here Jesus dat U my neem nes ek is. Dat u my seën, my oopbreek en my dan aan myself en aan die wêreld as lewende en heilige offer teruggee.” Amen.