Lukas 22:70-71. 70 Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?” Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!” 71 Daarop sê hulle: “Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!”
GEDAGTE
In die heel eerste sin van sy wêreldbekende boek, “Instusie of onderwysing in die Christelike godsdiens” sê Johannes Calvyn dat ware wysheid uit twee dele bestaan. Die eerste is dat ons God moet ken en die tweede dat ons onsself moet ken. En dan skryf Calvyn dat die kennis van God en die kennis van onsself tot só ’n mate met mekaar verbind is, dat dit moeilik is om te bepaal watter een die oorsprong is van die ander.
Hoe kan ons sê dat ons vir God ken as ons nie onsself ken nie? En hoe kan ons onsself ken, sonder om dit deur die liefdevolle en genadige oë van die Skepper te doen? Om trou te bly aan God vra van my om trou te bly aan myself. En om trou te bly aan myself, vra van my om trou te bly aan God.
Jesus bly trou aan Homself én aan God wanneer Hy uitgedaag word om te verklaar wie Hy is – al plaas Hy daarmee sy lewe op die spel. Deur aan Homself trou te bly, bly Jesus ook trou aan God. Op ’n indirekte manier erken Hy dat Hy die Messias is en ook die Seun van God wanneer Hy ondervra word. Maar ongevraagd en uit sy eie verklaar Jesus dat Hy die Seun van die mens is wat van nou af aan die regterhand van die almagtige God sit. Jesus vereenselwig Hom met God én mens. Met God én met ons. Waarom? Want Jesus ken Homself én Hy ken vir God. Regdeur die Lukasevangelie hou Jesus se verwysings na Homself as die Seun van die mens verband met sy lyding sowél as sy verheerliking. Dit alles kon gebeur slegs omdat die een die ander moontlik maak: Kennis van Homself en kennis van God.
Mag dit waar wees van elkeen van ons. Mag ons onsself werklik ken. En mag ons God werklik ken.
GEBED
“Here, om deur U geken te word, maak dit vir ons moontlik om U te ken en om onsself dieper te leer ken. Help ons om na onsself te kyk deur u liefdevolle en genadige oë.” Amen.