Jesaja 53:4. Tog het hy óns lyding op hom geneem, óns siektes het hy gedra. Maar ons het hom beskou as een wat gestraf word, wat deur God geslaan en gepynig word.
GEDAGTE
In Jesaja 53:4 het ons pas gelees dat Jesus ons lyding op Homself geneem het en dat Hy ons siektes gedra het. Daar was niks makliks hieraan nie. In die volgende vers lees ons dat Jesus deur óns oortredings deurboor is en dat Hy oor óns sondes verbrysel is. ’n Mens sou kon sê dat Jesus ter wille van ons gebreek was.
Indien ’n mens in die Nuwe Testament lees hoedat die Nagmaal ingestel word (Mark 6:41-44; 14:23, 24; Joh 6:11; Luk 24: 30; 1 Kor 11:24-26), vind jy altyd ’n viervoudige ritme wat deur vier werkwoorde verwoord word. Eerstens neem Jesus die brood. Dan dank Hy God daarvoor. Of Hy seën dit. Derdens breek Jesus die brood en laastens gee Hy dit aan sy dissipels: Neem, seën, breek en gee.
Jesaja 53:4 en 5 bring ons by die derde deel van die viervoudige ritme: Breek: Soos wat ons die brood breek by die gebruik van die Nagmaal, is Jesus vir óns gebreek. Maar ook óns word gebreek. Ons word gebreek vanweë ons sterflikheid en uiteindelik vanweë die feit dat ons in ’n onvolkome, sondige wêreld leef. By die nagmaal word ons gebreek en óópgebreek vir die Here. Hier kan ons nie na binne gekeer leef nie. Ons diepste bedoelings en menswees word onthul. En hier, in ons diepste binneste, werk die Here met ons. Bring die Here vergifnis, bevryding en genesing.
Dis swaar om te breek en oopgebreek te word. Pynlik. Maar wanneer dit gebeur, is die Here Jesus saam met ons. Hy neem ons lyding en ons siekte op homself. Hy is gebreek sodat ons nooit sónder Hom of finaal stukkend sal breek nie.
GEBED
“Here, U weet waarvan ons gemaak is, U hou dit in gedagte dat ons stof is. Maar onverganklik is U liefde vir ons Here. U is getrou en U neem ons sonde, siekte en dood op Uself… sodat ons kan lewe!
AMEN