Filippense 1:12 & 13: “Ek wil hê julle moet weet, broers, dat wat my oorgekom het, juis die verkondiging van die evangelie bevorder het. Dit het daarop uitgeloop dat die hele keiserlike wag en al die ander nou besef dat dit ter wille van Christus is dat ek ‘n gevangene is. Deur my boeie is die meeste broers ook in hulle vertroue op die Here gesterk, en hulle waag dit al hoe meer om die woord van God onbevrees te verkondig.”
Halfvol of halfleeg?
Ek sluit graag hierdie afgelope paar dae se dagstukkies af met nog ’n laaste belangrike keuse. Ons het nou al gesels oor die keuses tussen reg en verkeerd? “Fans”, of “followers” en tussen toeskouers en spelers.
Vandag dink ons kortliks oor ons persepsies, of hoe ons na situasies kyk. Hoe ons ’n saak, of gebeurtenis sien en dan uiteindelik daaroor voel. Die keuse van persepsies – positief of negatief? Pessimisme of optimisme?
Ons almal ken die voorbeeld wat in die verband gebruik word, oor hoe ons die halfvol glas water sien – halfvol, of halfleeg. In baie kinderpreke, maar ook selfs in groot leierskap- en motiveringseminare is hierdie voorbeeld, of vergelyking al gebruik. Hoe kyk ek na ’n situasie en wat is my persepsie van ’n bepaalde situasie?
Hoe neem ek dit waar? Het ek ’n vuil, of donder bril aan wat alles donker en negatief kleur en dan ook bepalend word van hoe ek daaroor voel en dink. Sien ek pessimisties ’n halfleë glas?
Of dalk anders? Kyk ek na situasie op so ’n manier dat ek dit positief beoordeel. Sien ek die glas as halfvol! Hierdie positiewe uitkyk vul my nie net alleen met optimisme nie, dit skep ook vir my die moontlikheid om nuwe potensiaal en moontlikhede in die betrokke situasie te sien! Dit maak my ook sommer ’n blymoedige mens, want my positiewe uitkyk beïnvloed my ingesteldheid op die lewe en maak dit vir my ’n lekker ervaring.
Paulus het sy bril skoongemaak sodat hy die glas as halfvol kon sien. Sy omstandighede en situasie in die tronk was uiters sleg en negatief. Maar hy kyk op ’n bepaalde manier daarna om ongelooflike potensiaal in dit raak te sien en te erken. “Wat met my gebeur het,” sê Paulus, het die verkondiging van die Evangelie bevorder en uitgeloop daarop dat die Evangelie van Christus verkondig kon word. Hoe nodig in ons tyd is dit nie om die negatiewe gees rondom ons te vervang met positiewe denke en persepsies nie.
Gebed
Here, help my om my bril skoon te maak sodat ek die mooi en die positiewe in elke situasie kan raaksien. Amen