Lukas 9:61: “En ’n ander een het ook gesê: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is. Toe sê Jesus: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie.”
Gister het ons by die belangrike keuse: “fan” of “follower” stil gestaan. Vandag wil ons dit opvolg met die vraag: toeskouer, of speler?
Gister het dit duidelik geraak dat ons moet kies op watter wyse ons met Jesus geassosieer wil wees. Wil ’n mens iemand wees wat van ver af kyk en Hom op ’n afstand volg en hande klap, of wil jy iemand wees wat sy kruis opneem en agter Jesus in die stofpad van die lewe stap.
Net so belangrik is die keuse oor hoe ek betrokke wil wees in die koninkryk van God. Wil ek ’n toeskouer van God se werk wees, of wil ek my hand aan die ploeg slaan soos Jesus in hierdie teksgedeelte sê, en werklik diens verrig?
Almal van ons ken ’n sportwedstryd met toeskouers op die paviljoen en spelers op die veld. Ons ken ook die verskil tussen die twee groepe. Die spelers op die veld wy hulself aan die spel. Hulle werk hard aan die spel, druk in die skrum, gooi doele, of slaan die bal oor die net. Met sweet en inspanning verrig hulle hul taak om uiteindelik as oorwinnaars uit die wedstryd te tree.
Die Engelssprekendes het ’n baie mooi spreekwoord wat sê: “They put their body on the line.” Toeskouers is anders, hulle het ’n belang by die spel en bewonder die talent van die spelers. Die wedstryd is vir hulle mooi, daarom woon hulle dit by, maar hulle plaas nie hulle eie lywe op die spel nie. Hulle neem dit slegs van die kantlyn af waar, sonder om self te sweet en betrokke te raak.
Dit is ook waar van ons Christelike gemeenskap en selfs die kerk. Daar is diegene wat hulle hande vuilmaak met die harde werk in die koninkryk van God. Mense wat praktiese diens lewer om ’n verskil in die wêreld te maak en om aan God se koninkryk gestalte te gee. Dit verg baie keer sweet, geld, harde arbeid, tyd en inspanning. Is dit nie wat Jesus ook verwag van die mense wat Hom volg nie? Om ons kapasiteit en bronne so te bestuur dat die werk in die Koninkryk nie afgeskeep word nie.
Jesus verwag dat sy volgelinge ook toegewyde spelers op die veld sal wees. In ons veranderende tye is dit so nodig dat die liggaam van Jesus sigbaar moet wees, dat die sout en lig aktief ’n verskil in die wêreld moet maak. Dit kan nie net eensydig van die kantlyn af gedoen word nie. Dit vra mense om die stewels aan te trek, die raket op te neem en hul aan die taak toe te wy. Doen dit deur ander te dien, om uit te gaan om die Evangelie aan ander te verkondig, of diensbaar te wees deur klein dingetjies binne die gemeente, of gemeenskap te doen.
Weereens die vraag, met die keuse wat daarmee saamgaan: Speler, of toeskouer?
Gebed:
Here, help my om my hand aan die ploeg te slaan en diensbaar te wees in u koninkryk. Vergewe my as ek so maklik net van die pawiljoen af na die spel, kyk. Amen.