Gedagte vir die dag | Woensdag 17 Maart 2021

Psalm 1:6. “Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad, maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.”

Ons wil in die volgende paar dae praat oor iets waaroor ons elkeen daagliks praat. Iets wat ons elke dag mee te doen kry. Nee, dit is nie om te eet, of te slaap of te werk nie . . . dit is om te kies!

Van kleintyd af was dit al so – jy moet kies!  Toe ons kinders was, was ’n mens se keuse miskien beperk tot om byvoorbeeld tussen roomys of ’n sjokolade by die kafee te kies. Later moet ’n mens tussen vakke begin kies, of by watter Universiteit ’n mens wil gaan studeer asook tussen beroepe, huise en klere.

Keuses is daagliks deel van ons lewens.

Maar daar is ook groter keuses soos lewenstylkeuses, geloofskeuses en die keuse van ’n lewensmaat. Ons wonder dikwels wat ons kan help om hierdie keuses te maak en om seker te wees dat dit ’n goeie, of die regte keuse is? Is dit akademiese kennis, of ondervinding, of logika wat ’n mens kan help?

As gelowiges is ons baie bevoorreg om te glo dat God ons met die groot keuses in ons lewens kan help. Sy Woord, (die Bybel) voorsien baie riglyne daarvoor, maar ook hoe om ons keuses in lyn te bring met sy wil.  Verder gee Hy vir ons die Heilige Gees wat ons lei op maniere wat ons nooit gedink het moontlik is nie. Daar is een groot oproep uit die Woord hieroor: Kies reg! Kies die lewe!

Psalm 1 is ’n Psalm wat handel oor die regte keuses. Twee alternatiewe lewensmoontlikhede word uitgespel, (die ou vertaling het gepraat van die “twee weë”). Die een is die weg van die goddelose, wat hulle lewe sonde God wil leef.  Dit is ’n keuse wat gekenmerk word deur nutteloosheid, ’n lewe wat soos kaf in die wind wegwaai. Die alternatief tot die keuse is hulle wat die pad van God kies, wat God erken as die bron van hul lewe en wat daaruit sinvolheid en vrug geniet.

Dan moedig die Psalmdigter sy lesers aan in vers 6: “Maak seker dat jy reg kies” Ook elkeen van ons! Toets jou keuses elke dag! Laat jou deur sy riglyne en  Gees lei sodat jy die regte keuses maak.

Gebed

Here, help my in ’n deurmekaar tyd om reg te kies. Gee my die vermoë om te kan onderskei tussen my keuses en om dit altyd in lyn te bring met U wil vir my lewe.

Amen.