Gedagte vir die dag | Vrydag 12 Maart 2021

Johannes 3:16. “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Matteus 27: “Die môre vroeg het al die priesterhoofde en die familiehoofde van die volk die besluit geneem om Jesus dood te maak. Hulle het Hom geboei en Hom toe weggebring en aan Pilatus, die goewerneur, uitgelewer.”

Een aand voor ’n broadway vertoning, was die sanger, Mary Martin, gereed om vir die musiekblyspel South Pacific, op die verhoog te gaan toe sy ’n nota ontvang. Die nota was van Oscar Hammerstein, wat op daardie oomblik op sy sterfbed gelê het. Die kort nota het net gesê: “Liewe Mary, ’n klok, is nie ’n klok totdat dit lui nie. ’n Lied is nie ’n lied, totdat jy dit sing nie. Liefde is nie in jou hart geplaas om daar te bly nie. Liefde is nie liefde totdat jy dit weg gegee het nie.”

Ek het weer die verhaal die afgelope tyd gelees en besef dat dít is wat Jesus kom doen het.   Hy het sy liefde kom weg gee. God het juis vir Christus om dié rede na die aarde gestuur. Dit is wat in hierdie lydingsverhaal met Jesus gebeur het.  Jesus is voor Pilatus uitgelewer sodat Hy die proses kon voltooi.  Hy het die pad geloop tot op die einde, hoofstuk 2:27 “Hulle het hom geboei, weggebring en uitgelewer aan Pilatus.

Na Mary Martin se vertoning die aand, het baie van die toeskouers bewoë na die verhoog gestorm en gevra: “Mary, wat het vanaand met jou gebeur? Ons het nog nooit so ’n optrede, of vertoning van jou beleef nie.”  Terwyl Mary ’n traan van haar wang afgevee het, het sy vir hulle die briefie van Hammerstein gelees en toe sê sy: “Vanaand het ek my liefde weg gegee.”

Dit is die voorbeeld wat Jesus Christus vir ons kom wys het.

Hoe gaan jy vandag, of gedurende die week jou liefde weggee?

Gebed:

Here, U het vir ons die voorbeeld gestel deur op die lydingspad wat U geloop het, u liefde weg te gee. Ons is so gemaklik in ons eie omstandighede en ons eie geriewe. Gee vir ons die genade om ook ons liefde weg te gee.  Maak ons oë oop sodat ons die mense wat U op ons pad bring, raak sien.

Amen.