Gedagte vir die dag | Vrydag 5 Maart 2021

Markus 14:32-33.  “32.Toe kom hulle by ’n plek met die naam Getsemane, en Jesus sê vir sy dissipels: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.” 33Daarna neem Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom. Hy het ontsteld en beangs geword 34en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak!”

Het jy al ooit ervaar dat angs jou keel toedruk en dat jy voel asof jy nie kan asem haal nie? Was jy al so benoud oor ’n situasie of binne ’n situasie dat jy gevoel het jou hart kom tot stilstand. Jy moes al jou moed bymekaarskraap vir die dinge wat jy móét doen, maar waarvoor jy nie kans gesien het nie. Jy het eenvoudig net nie die krag gehad om deur die krisis te gaan nie. Om die waarheid te sê: werklike sielsbenoudhede en geestesworstelinge kan van die swaarste beproewings word wat mense moet deurleef. Wat ons in die Evangelies lees is dat Jesus ook op ’n stadium in sy lewe so ’n verskriklike benoude oomblik beleef het.

Jesus en sy dissipels is in Getsemane. Hy raak doodsbenoud as Hy dink aan sy naderende dood. Die pyn van sy naderende dood oorweldig Hom en Hy bid baie ernstig: “Neem die lydensbeker van my af weg, nogtans nie my wil nie, maar U wil . . .”  Binne die volgende paar ure sal Hy aan die strydlustige soldate oorgelewer word. Hulle sal Hom martel en verneder. Hulle sal Hom stroop van sy menswees. In die openbaar sal Hy soos ’n slaaf en ’n misdadiger behandel word.

Lukas sê dat Jesus ’n doodsangs beleef het en dat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Lukas 22:44). Dit is nogal insiggewend dat Jesus, die sterke Heer so ontsteld en beangs en benoud geword het. Verder het Hy vir Petrus-hulle gevra om saam met Hom te waak en te bid. Dit alles wys dat Jesus werklik ’n mens was. Natuurlik is Hy ook God, maar Hy is God wat mens geword het. Hier in Getsemane sien ons die ware mensheid van Jesus Christus.

Hoekom was Jesus so ontsteld en beangs en doodsbenoud? Die antwoord is dat die uur van lyding vir Hom aangebreek het (Markus 14:35). Hy moes die lydensbeker drink (Markus 14:36). Wat is die lydensbeker? Dit is die beker wat vol gemaak is met God se woede (toorn) oor die sonde. Om die lydensbeker te drink is ’n aanduiding dat God se woede oor die sonde (God se toorn) oor Jesus sou losbreek.

Wat het Jesus gedoen in sy diepste tyd van krisis? Hy het God die Vader se krag en genade gesoek. Ja, Hy moes steeds die beker leeg drink – die beker het Hom nie verby gegaan nie. Maar Hy kon dit met die innerlike krag en vrede wat ons net by God kan vind, leeg drink. En dit is ook vir ons die troos.  Al moet ons steeds ’n krisis beleef en word die probleem nie opgelos nie, kan ons met God se innerlike krag en genade dit deurleef.

 GEBED

Jesus, in Getsemane het U gebid, gevra, gepleit

Dat ons Vader moet verander aan sy besluit,

Dat die bitter beker by U verby moet gaan…

En tog het U die hele tyd verstaan

Dat U deur u lyding die weg van verlossing baan.

So het U voor God se wil gebuig

Al het dit beteken dat elke stukkie lewe uit U suig…

Deur die weg wat U sou loop

Gee U aan ‘n verlore wêreld hoop

Dit wat U gedoen het, gee betekenis aan elke preek

Want deur u gehoorsaamheid word ons vrygespreek.

AMEN (Ds. Awie Erxleben)