Jesaja 53:3. “Hy was verag en deur die mense verstoot, ‘n man van lyding wat pyn geken het, iemand vir wie die mense die gesig wegdraai. Hy was verag, ons het hom nie gereken nie.
Om die diepte van hierdie aangrypende gedig, of lied te verstaan, moet dit teen die agtergrond waarin dit geskryf is, gelees word. Oorspronklik is hierdie gedig nie met Jesus Christus as Verlosser in gedagte, geskryf nie. Dit is in ’n tyd geskryf toe die Messias nog net verwag is en niemand geweet het wie Hy sou wees en wat met Hom sou gebeur nie. Oorspronklik is die gedig as trooswoord vir ’n volk wat moedeloos was in hulle ballingskap, geskryf.
Ons wat leef vanuit die Nuwe Testament en wat weet van Jesus wat as Verlosser na hierdie aarde gekom het om vir ons sonde te sterf, hoor dat hierdie lied ook vir ons van Hom vertel.
Die straf op ons sonde het Jesus so vernederend laat ly. Die dienaar ly as gevolg van ons sonde. Die dienaar ly in ons plek, dra die straf wat ons toekom, lê sy lewe af sodat ons kan lewe. In ons plek – ja, dit is die wil van die Here. Om aan ons barmhartigheid te bewys, moet die Here ook aan die geregtigheid voldoen. Sonde kan nie maar net toegesmeer word nie. Dit kan nie maar net onder die matjie ingevee word nie. Dit moet met wortel en tak uitgeroei word. Daar moet volledig daarvoor betaal word. Daar was nie ’n ander manier nie. Daar was nie ’n kortpad nie. Jesus aan die kruis in ons plek was die enigste oplossing.
Om ons met God te versoen, moes Jesus die hemel verlaat en mens word. In die hemel was Hy God. Maar Jesus moes hierdie koninklike heerlikheid aflê en ’n mens word sodat Hy in ons plek aan die kruis kon sterf. Hy het die gestalte van ’n slaaf, die laagste toestand van menswees, aangeneem. As slaaf is Hy verneder en deur mense verstoot. As slaaf wou niemand iets met Hom te doen gehad het nie. As slaaf is Hy verag. Selfs God het Sy aangesig vanaf Jesus weg gedraai. Hierdie pyn en verwerping moes Jesus ter wille van my en jou verduur het.
Dit is wat die Jesus gekos het, om jou te red!
GEBED
Here ek staan verstom oor u genade vir my. Dankie dat Jesus vir my sonde aan die kruis gesterf het.
Amen