Gedagte vir die dag | Vrydag 26 Februarie 2021

Esegiël 36:26. “Ek sal julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ’n hart van vleis gee.”

Hoe maak ’n mens met iemand wat weier om te verander? Dit is ’n verskriklike gedagte vir ’n eggenoot, ouer, of vriend dat jy niks meer kan doen om iemand te verander nie. Ons almal ken sulke hartseer stories. Jy het uiteindelik geen ander opsie as om die mens aan hom-, of haarself oor te laat nie. Dit is waaroor die gedeelte in Esegiël 36 gaan – dat God ten spyte van mense se onvermoë om te wil verander, die kliphart uit hulle liggame kom haal. Oor tyd en deur omstandighede verander die Here ons. Is daar iemand wat jy vandag aan die Here wil opdra? Dalk iemand oor wie se kliphart jy begin moed verloor het. Miskien bring die Here jou vandag tot ’n nuwe insig oor hoe jy die persoon vorentoe moet hanteer. Of miskien vul dit ’n mens net weer met nuwe hoop om ten spyte van ’n kliphart steeds liefde en goedheid aan die persoon te bewys.

Gebed

Help my, O God, om my pretensie te laat vaar en my ware self te vind in selflose liefde teenoor ander. Help my, o God, om alle valse voorstellings van U te verwerp, al is dit ten koste van my eie gemak. Help my, o God, om my probleme op die agtergrond te skuif en my gedagtes op U te fokus. Help my, o God, om nie in die klipharte van ander vas te kyk nie sodat ek mense versigtiger sal beoordeel. Aan U o God, behoort die koninkryk, die krag en die heerlikheid. In u hande gee ek klipharde harte oor.