Gedagte vir die dag | Donderdag 25 Februarie 2021

2 Kronieke 30:9. “Die Here julle God is genadig en barmhartig. Hy sal nie afsydig staan as julle na Hom toe terugkom nie.”

In hierdie teks word die volk weer uitgenooi om met die viering van die Paasfees na die tempel in Jerusalem, terug te keer. Wat sou dit vir ons beteken om na die Here terug te keer? Net soos in die teks het ons byvoorbeeld nie in die uitdagende tyd van die Covid-19-pandemie vir God agterweë gelaat het nie, maar liewer dat ons maniere van godsdiensbeoefening binne die tydsgees van die pandemie, beïnvloed is. Hoe het hierdie realiteit die afgelope elf maande jou lewe kom raak?  Om na die Here toe terug te kom beteken dus nie noodwendig om weer na ’n fisiese gebou terug te keer nie, maar eerder dat die Here se genade en barmhartigheid ons inspireer om steeds nader aan God en mekaar te groei en om met ’n verskil in die wêreld te leef.  Moenie toelaat dat dié tydsgees jou hiervan ontneem nie.

Gebed

Helige God, Skepper van alles wat bestaan, U is gedurig besig om in die gesig van die wêreld te verander; in Jesus Christus vernuwe U ook vir ons, u kinders. Laat daarom u kreatiewe energie in my lewe invloei om dit te transformeer tot ’n instrument waarmee U, u koninkryk hier op aarde kan uitbrei. Here, dit gee aan die lewe hier by ons sin en doel wat alle ander vreugdes waaraan ek kan dink, verreweg oortref.

Amen.