Matteus 26:36. “Daarna kom Jesus met sy dissipels by ‘n plek met die naam Getsemane, en Hy sê vir hulle: “Sit hier terwyl Ek daar gaan bid.” Hy het vir Petrus en die twee seuns van Sebedeus saamgeneem. Toe het Hy bedroef en beangs geword en vir hulle gesê: “Ek voel doodsbenoud. Bly hier en waak saam met My.” Hy het ‘n entjie verder gegaan en daar gekniel met die gesig teen die grond en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan. Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”
Nood leer bid!
Is hierdie uitdrukking nie baie waar nie? Ons ken dit almal so goed. As ’n mens swaar kry, of lyding ervaar, dan is ’n mens se gebedslewe dikwels op sy beste. Dan besef ’n mens weer hoe afhanklik jy eintlik van God is en hoe swak jy in jouself is.
In ons teksgedeelte van vandag sien ons dat dit selfs waar was van Jesus. My kollega, Callie Visagie, het gister ook uit hierdie gedeelte gepreek en ander belangrike aspekte van hierdie Getsemane-verhaal uitgelig.
Dit bly een van die hartseerste verhale, maar ook een waar ons so baie leer van Jesus, sy ervaring van lyding, sy menslikheid, sy broosheid, sy nood! Ons tref Hom hier aan in die tuin van Getsemane, waar Hy een van die belangrikste aspekte van ons geloofslewe illustreer. Hy bid! Ja, op ander plekke in die Bybel het ons ook baie gesien dat Jesus bid en dat Hy sy dissipels leer hoe om te bid.
Maar hier bid Hy in nood! Bedroef en beangs, roep Hy na Sy Vader. Hy maak teenoor sy drie vriende wat daar saam met Hom is, ’n erkentenis: “Ek voel doodsbenoud! Bly hier en waak saam met My!” Met Sy gesig teen die grond smeek Hy: “My Vader, laat hierdie lydensbeker by My verby gaan.”
Sjoe! Dis Jesus, wat so swak, so hulpeloos, so beangs is! Volledig mens. Volledig kwesbaar en broos sodat Hy kan identifiseer met ons nood, angs en lyding.
In dit, in hierdie brose lyding van Jesus, leer ons juis dit: Om in nood, lyding en broosheid nie op ander plekke eerstens te probeer uitkoms vind nie, maar op ons knieë, gesig teen die grond, roepend na God.
Gebed
Jesus, al u angs en smeking, eensaam in Getsemane; dit was liefdevol bereken om ons ware rus te gee. Heer, U het, gedring deur liefde, self die kruis vir ons gedra, en U sterf, die sondelose, op ons plek op Golgota.
Amen