Deur: Ds. Hanno Ackerman
Die kerk beleef groei en verandering op elke bedieningsgebied en veral nou tydens die Covid-19-pandemie. Maar dié tyd van onsekerheid het ons ook geforseer om met nuwe oë na die bestaande sisteme te kyk.
Ek onthou hoe ek die Heidelbergse Kategismus voor my Sondagskooloom moes opsê en hoe my ma my Sondagoggende kerk toe moes sleep om na lang preke te luister en dan het die Sondagskool nog boonop na die erediens gevolg. Vandag dink ons anders en meer oopkop oor die konsep van kategese en besef die model van die verlede moet aangepas en verander word.
Die jeugbediening moet boonop voortdurend herskik om te midde van die heersende Covid-19-inperkingsregulasies vir tieners en kinders sinvolle kategesebyeenkomste aan te bied.
Ons het in 2020 ’n model getoets wat toepaslik is vir enige regulasie en beperking wat ons moontlik in die toekoms nog sal beleef. Die dae van kategesetoetse en Bybelverse uit jou kop uit leer, is verby. Ons wil graag vir kinders, families, studente en jongvolwassenes in die gemeente die geleentheid gee om ook seggenskap te hê in en deel te wees van dit wat in die jeugbediening gebeur.
In die kinderbediening (graad 1 tot 7) word die kategesegesprekke aan die preektema van die familiediens gekoppel en ons nooi families uit om soggens om 09:30 na die familiediens te kyk en dan na die diens aan die aanlyn kategesegesprekke deel te neem. Deur middel van interaktiewe gesprekke word kinders by die onderwerp betrek. Dié werkswyse maak dit vir ons moontlik om voort te gaan met kategesebyeenkomste, ongeag die vlak van beperkings wat ingestel word.
Gespreksmateriaal vir die kategesegespreksgroepe word ook weekliks op die gemeente se webwerf onder Junior Kategese opgelaai. Ouers kan dit gerus daar aflaai en met hul kinders deurwerk. Tieners se lesmateriaal word deur WhatsApp-boodskappe aan hulle gestuur. Indien daar ouers is wat belangstel om van die gespreksgroepe te lei, kontak gerus vir Brenda Visser, die gemeente se kinderwerker. Enige persoon wat ’n meer kontemporêre aanslag tydens eredienste geniet, word uitgenooi om die Relevantdiens en die daaropvolgende Zoom-gesprekke by te woon.
Wanneer kerkbyeenkomste weer in die kerkgebou toegelaat word en lidmate op die kerkperseel geakkommodeer mag word, sal die roetine rakende bywoning van eredienste met kategesegepreksgroepe na afloop van die eredienste, net voortgesit word.
Mag 2021 se nuwe kategesemodel ons daartoe lei dat ons na mekaar se menings, behoeftes en verwagtinge sal luister en mag jy en jou kinders, vriende en familie sodoende ’n geestelike tuiste in Stellenberg se jeugbediening en die nuwe manier van doen, vind.