Deur: Dr. Braam Hanekom
Ek het enorme respek vir Albert Einstein – onteenseglik een van die grootste wetenskaplikes deur alle eeue heen. Daar is al baie geskryf en gespekuleer oor of Einstein ’n gelowige was. Hy het grootgeword in ’n Joodse familie, maar het op ’n jong leeftyd ’n Katolieke skool bygewoon.
Einstein het oor jare heen talle uitsprake gemaak wat verskillende mense, gelowig en ongelowig, graag aanhaal om hulle eie standpunt te probeer ondersteun. ’n Gevolgtrekking waartoe sommige gekom het, is dat Einstein in ’n panteïstiese God wat nie inmeng in die alledaagse lewe van mense nie, sou geglo het.
Einstein sou affiniteit vir die Nederlandse filosoof Baruch Spinoza en sy denke getoon het, wat weer op sy beurt sou gesê het: “Hou op bid en gaan geniet die lewe.” Einstein sou egter ook by geleentheid gesê het: “Science without religion is lame, religion without science is blind.” Talle mense het daarna spekuleer oor wat hy presies daarmee bedoel het. Vir my wil dit voorkom of Einstein ’n agnostikus was. Iemand wat oor die metafisika gewoon gesê het: Ek weet nie.
Nou wat het dit als met gebed te doen? Gebed, anders as meditasie, werk volgens die beginsel dat daar ’n transendente, maar ook persoonlike God is wat luister. Ek is oortuig daarvan dat die gebedslewe van verskillende mense van die mees persoonlike (en daarom ook uiteenlopende) ruimtes is wat bestaan. Ek sou dus baie huiwerig wees om voorskriftelik te wees.
Die Skrif gee wel enkele riglyne. Hiervan is die Onse Vader vir my die kosbaarste. In tye wanneer ek om ’n verskeidenheid redes sou sukkel om te bid, bid ek net eenvoudig die Onse Vader.
Ek bly egter bid omdat ek deur die jare besonderse positiewe ervarings van gebed het. Daar gebeur op baie vlakke dinge met, in en om my. My gebede word natuurlik nie altyd beantwoord soos wat ek dit wil hê nie. Dit kan ook nie. Stel jou voor God sou elke gebed waar daar gebid word dat mense gesond word en bly lewe, positief beantwoord. Dink vir ’n oomblik wat die implikasies vir die skepping sou wees.
Ek bid dus nie omdat ek glo dat God my gebede altyd sal verhoor soos ek dit wil hê nie. Ek bid egter omdat ek weet dat God my hoor en antwoord. Soms met ’n “ja”, soms met ’n “nee”, maar altyd met berusting. Gebede wat in ooreenstemming met God se wil gebid word, word gunstig beantwoord. Nie altyd onmiddellik nie, maar wel. Ons bid dus nie net om te vra nie, maar ook om God se wil te onderskei. Dit neem tyd, verg nederigheid en respek, maar word een van die mees vervullende ervarings vir diegene wat so bemoeienis met God maak.
“’n Gelowige wat probeer leef sonder gebed, is soos ’n mens wat probeer lewe sonder om asem te haal.” – Martin Luther