Deur: Ds. Marius Breytenbach
Nooit sou ons kon dink dat daar in ons eie gemeente en ook in ander kerkgemeenskappe ’n tyd sou aanbreek waarin ons vir maande lank geen mense in kerkgeboue mag ontvang nie.
Ten spyte van die ontnugterende ervaring wat ons die afgelope tien maande beleef het, het ons ook ’n nuwe geestelike oplewing beleef. Lidmate kon aanlyn by eredienste, kategese, Bybelskool en daaglikse dagstukke inskakel.
Die Covid-19-pandemie het ons geleer dat die kerk veel meer is as die gebou waarin almal gereeld kon saamkom. Dit leef in die harte van ons lidmate wat in hierdie tyd moeite gedoen het om na mense om hulle, wat weens die krisis finansiële, pastorale of voedselnood ervaar het, uit te reik.
Dit is besonders om op Sondae te sien dat net soveel, of selfs meer mense as in die kerk self, by ons aanlyn eredienste inskakel, asook die groot groep wat ons daaglikse oordenkings lees, of daarna luister en by Bybelskoolsessies inskakel. Kinders, ouers en tieners kon deur die Zoom-gespreksplatform met kategese voortgaan.
Dit is baie moeilik om te midde van die onsekerheid wat die pandemie skep eredienste en byeenkomste vooruit te beplan. Ons besef die verandering van eredienstye is vir lidmate ’n aanpassing, maar ons probeer ’n struktuur skep waarbinne ons maklik tussen verskillende vlakke van inperking kan beweeg en wat dit vir ons moontlik maak om al vier ons eredienste weer te hervat.
Sondae is daar vier aanlyn dienste beskikbaar. Die heersende vlak van inperking sal bepaal of eredienste deur kerkgangers bygewoon kan word, aldan nie. Eredienste word soos volg ingerig:
- ’n Oggenddiens word om 08:30 vanuit die kerkgebou gestroom en daarna is die opname van die diens aanlyn op die internet beskikbaar.
- ’n Meditatiewe diens word om 09:00 in die kapel aangebied. Twintig kerkgangers kan wel die diens bywoon en vanaf 11:00 sal die opname van die diens aanlyn beskikbaar wees.
- ’n Familiediens word om 09:30 vanuit die kerkgebou gestroom en die opname van die diens is vanaf 10:10 aanlyn beskikbaar. Lidmate vir wie die oggenddiens se tydgleuf nie pas nie, is welkom om by die familiediens in te skakel. Dit is nie net ’n kinderdiens nie en oupas, oumas, ooms en tannies sal almal aanklank by die diens vind.
- Die Relevantdiens word om 18:00 vanuit die kerkgebou gestroom.
Die huidige vlak van inperking laat ons toe om ’n beperkte aantal mense by eredienste toe te laat. Ons het dit dus goedgedink om wel 20 kerkgangers net by die meditatiewe diens (09:00 in die kapel) toe te laat en tydens die Relevantdiens weer word graadgroepe om die beurt na die diens uitgenooi. Die oggend- en familiediens kan egter nog nie deur kerkgangers bygewoon word nie. Direk na die familie- en Relevantdiens is daar aanlyn kategese-aanbiedings.
Daar is ’n paar maklike maniere om na eredienste op die internet te kyk:
- Besoek ons www.stellenberg.co.za en kliek op die eredienste-blokkie. Selekteer die diens van jou keuse en kliek dan op die video-voorskou.
- Teken in op Stellenberg se YouTube-kanaal. Die skakel na die gemeente se YouTube-kanaal is ook op www.stellenberg.co.za beskikbaar.
- Ontvang die weeklikse elektroniese bulletin asook die skakels na al ons aanlyn eredienste deur ’n e-pos aan sanel@stellenberg.co.za te stuur.
- Indien jy graag na die eredienste op jou selfoon wil kyk, stuur ’n WhatsApp-, of Telegramboodskap met jou naam+nommer+ eredienste na 081 045 2428.
- Indien jy graag na die daaglikse oordenkings op jou selfoon wil luister, stuur ’n Whatsapp, of Telegramboodskap met jou naam+stemboodskap na 081 045 2428.
Ons is dankbaar teenoor lidmate wat die afgelope tien maande ons eredienste getrou aanlyn gekyk het en ons boonop ook finansieel deur middel van dankoffers ondersteun het.