2 Korintiërs 5:17. Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Min mense sal sê dat wurms vir hulle mooi is. Dalk eerder grillerig. Op ’n dag spin wurms hulleself toe in ’n kokon en wanneer hulle uitkom, is hulle pragtige skoenlappers! Wanneer die kokon oopgaan, is dit ’n nuwe skepping wat uit die kokon verskyn. Die wurm is weg en met ’n pragtige skoenlapper vervang. Met ander woord iets nuuts is gevorm. Dit is presies wat die Here ook met ons wil doen. Hy wil jou en my nuut maak – oormaak. Sonde het ons lelik en vuil gemaak sodat ons amper soos wurms lyk – grillerig en afskuwelik. Maar Jesus wil ons nuwe mense maak. Hy wil ons so mooi soos ’n skoenlapper maak.
’n Nuwe lewe met ’n nuwe lewensuitkyk en -standaarde is God se handewerk in ons lewens. In 2 Korintiërs 5 praat Paulus oor God se vernuwingswerk in mense se lewens. Hierdie vernuwingswerk kan in ons lewens moontlik gemaak word omrede Jesus vir al ons skuld betaal het. Jesus bring herstel en genesing in mense se lewens mee. God is die outeur van die veranderinge in ons lewens. Met ander woorde wat Paulus sê is dat God bewerk die nuwe skepping op die basis van dit wat Christus aan die kruis gedoen het. God neem die inisiatief om die ou sondige mens in ’n nuwe skepping en mens te verander en so ’n veranderde werklikheid te vestig.
Deesdae is makeover programme baie gewild. ’n Vaal persoon word oorgemaak en lyk na die proses soos ’n model. Paulus verwys ook hier na ʼn makeover, maar dit gaan diep . . . tot in jou siel. In Jesus kry jy ’n egte en totale makeover! Het jy al hierdie makeover gekry?
GEBED
Net soos ek is, met my sonde so groot,
kom ek na U, my Verlosser, in nood.
Daar aan die kruis red U my van die dood –
Net soos ek is so ellendig en blind,
dikwels tog ook nog so wêreldgesind.
By U alleen is daar redding te vind –
Net soos ek is kom en buig ek my neer,
ek is met sonde bevlek, o my Heer. Net U kan, Heer, my verlorenheid keer.
AMEN