Gedagte vir die dag | Vrydag 5 Februarie 2021

Klaagliedere  3:22-24.  22 deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, 23 dit is elke môre nuut. U trou is groot. 24 Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.

Klaagliedere, is ’n versameling liedere waarin met hartseer teruggekyk word na die tyd van die Babiloniese ballingskap, die val en vernietiging van Jerusalem (587-586 vC).  Die skrywer van die klaaglied, Jeremia het geleef in ’n treurige tyd.  Dit was die jare na die oorlog teen die Babiloniërs en die wegvoering van die volk Israel na Babilon.  Jerusalem is verwoes en die tempel lê in puin.  Die  inwoners het al hulle besittings verloor.  Boonop het Juda sy onafhanklikheid verloor en die inwoners moet duur belastings aan die nuwe Babiloniese owerheid betaal.

Binne hierdie gevoel van moedeloosheid en hulpeloosheid besef Jeremia een ding – omdat God die mens lief het is alles nie verlore nie.  Die Here gee steeds om vir die volk al is hulle nou in ballingskap weggevoer.  God se lojale liefde was steeds sigbaar deurdat Hy binne in hierdie slegte tyd steeds die volk gedra en gelei het.

Wat bely Jeremia dan oor God?  Hy bely dat die liefde van die Here hulle van totale ondergang gered het.  Hy bely ook dat die Here ’n beskermende en ontfermende God is.  Sy ontferming is grensloos, elke môre nuut.  Die Here gee elke dag ’n nuwe voorraad vars genade vir hulle wat daarvoor vra en hierdie bron van genade en liefde droog nooit op nie.

Swaarkry en beproewings, kan ’n geweldige geloofskrisis in ’n mens se lewe veroorsaak.  So ’n geloofskrisis dat jy soms geestelik siek raak.  Want in tye van beproewing voel God nie soos ’n vriend nie, maar soos ’n vyand.  Beproewings maak ’n mens seer, dit verneder jou soms, is dikwels ongenaakbaar en demp al jou lewensvreugde.

Hoofstuk 3 in Klaagliedere wil ons egter opnuut verseker dat daar wel troos vir God se kind is, te midde van sy gevoel van verlies, verstotenheid en eensaamheid.  Die troos is dat jy in God se hand is.

GEBED

Here, ons kom na U toe op grond van u genade. Laat ons nie alleen met ons twyfel en vrae nie.  Laat ons nie alleen met ons angs en eensaamheid nie.  Ons bid om geloof in u genade. Here, ons bid op grond van u, liefde, u barmhartigheid.

Amen