Gedagte vir die dag | Dinsdag 2 Februarie 2021

Psalm 100:1-2.  “Juig tot eer van die Here, almal op aarde! Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel!”

In die Bybel lees ons hoe gelowiges in Jerusalem daagliks gedurende die dag by die tempel ’n draai gemaak het. Die rede vir hierdie roetine was eenvoudig.  Hulle moes bewus wees daarvan dat God by hulle is in alles wat deur die loop van die dag met hulle gebeur en besig is om hulle deur die lewe te lei.  Dit is ook die bedoeling van ons stiltetyd elke dag – om net eenvoudig bewus te wees van een diep waarheid en dit is dat God nou verweef is in die lewens van almal op aarde.  Laat toe dat hierdie eenvoudige wete jou vanoggend met blydskap en dankbaarheid vervul.

Gebed (Liedboek 100, Vers 2 en 3))

Erken die God en sy gesag. Hy hou oor ons, sy kudde wag. Laat ons as volk die Heer aanbid. Hy’t ons gemaak as sy besit. Gaan by sy tempel in en sing en bring jul dank met jubeling. Sy goedheid, liefde en sy trou sal Hy vir altyd onderhou.

AMEN.