Gedagte vir die dag | Woensdag 27 Januarie 2021

Liedboek 188. “Kom, dank nou almal God met hart en mond en hande; loof Hom wat wonders doen, tot in die verste lande. Van vroeg, van kindsbeen af, het Hy ons trou bewaar en tot vandag toe nog geseën en gespaar.”

Teen die einde van Januarie is ons al gewoonlik reeds volstoom aan die gang.  Kinders en kleinkinders is terug by die skool, studente mik om terug te keer na universiteite en kollegas beraam by die werk saam planne rakende die jaar wat voorlê.  En hier bevind ons onsself vanjaar op die 27 ste Januarie 2021 weer in die lugleegte wat die Covid-19-virus veroorsaak.  Met die eerste maand van 2021 amper agter die rug en met  gemengde gevoelens wat moontlik in jou leef oor die jaar wat voorlê, laat die bekende lied 188 vandag in jou gedagtes resoneer. “Kom dank nou almal God”. Hoekom? Die rede is vanselfsprekend . . .  jy was al voorheen en vele male by ’n 27ste dag van Januarie in jou lewe.  “Van kindsbeen af het Hy ons trou bewaar . . . en tot vandag toe nog geseën en gespaar”.  Ons is nog ’n jaar geseën met die voorreg om nog vriende, families en kollegas te hê.  Die voorreg om vir nog ’n jaar nuwe mense te leer ken.  Mag hierdie vrede aan die einde van Januarie 2021 vir jou meer as genoeg wees.

Gebed

O God so ryk en goed, gee ons solank ons lewe altyd ’n blye hart ; as dit U wil is vrede. Laat U genade ons beveilig teen gevaar, in donker ure ons van struikeling bewaar.

AMEN.