Romeine 12:2: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Ons almal ken die uitdrukking baie goed: “It is all in the mind” My gedagtewêreld, hoe ek dink, my “mindset” is bepalend vir baie dinge in my lewe. Ons het vroeër die week ook stilgestaan by ’n gedeelte in Spreuke waar ons gemaan word om versigtig te wees oor wat in ons hart /denke aangaan, omdat dit is bepalend vir ons hele lewe.
’n Bekende filosoof het ook gesê: “Jy is, wat jy dink ” Hoe ons dink, oor die toekoms, oor Suid-Afrika, die ekonomie, is geweldig belangrik. Ons word maklik in ’n spiraal van negatiewe denke ingetrek wat ons gemoed in die dieptes van donkerte laat. Wanneer ons mense van hoop is, soos ons gister gesien het, beteken dit dat ons onsself oorlaai met positiewe denke, ook oor die toekoms.
Die teksvers van vandag is baie bekend en baie gewild en spreek hierdie situasie aan. Paulus was bewus van die feit dat mense maklik in ’n negatiewe spiraal van denke ingetrek kan word. Daarom moedig hy sy gemeentelede aan om nie soos die wêreld, wat hoop verloor het, te wees nie, maar om toe te laat dat God hulle manier van dink en doen verander. Dit is waar die hoop en verwagting vir die toekoms gesetel is. Dit is weereens nie uit ons eie krag nie, maar dis ’n “God-job.” God alleen kan my denke vernuwe (soos wat Dawid ook in Psalm 51 gebid het vir ’n hart wat vernuwe moet word). Met sulke positiewe denkpatrone, sal ons onsself dan kan onderskei rakende wat die wil van God is, wat goed, aanneemlike en volmaak is.
Kom ons besluit om hierdie jaar ’n jaar van positiewe denke te maak. Om die dinge te bedink wat mooi en goed en aanvaarbaar vir God is. So skep ons ’n kultuur van positiewe denke en verwagtinge en stry ons teen die toenemende golf van pessimisme wat ons wil oorneem.
Gebed
Here, help my om elke dag te besluit hoe ek moet dink. Dat ek elke gedagte gevange sal neem in gehoorsaamheid aan U. Help my om met vernuwe denke te onderskei wat vir U aanneemlik en reg is. Amen.