Gedagte vir die dag | Vrydag 22 Januarie 2021

Filippense 3:13-14: “Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

Die meeste van ons was al op een of ander manier by ’n wedloop betrokke. Daarmee wil ek nie sê dat almal uitstekende atlete was nie, maar almal het dit al ervaar, of gesien plaasvind. Dit is ’n inspanning, ’n uitkyk.  Dit behels die die fokus op die eindstreep, doelgerigtheid en harde werk om uiteindelik goed klaar te maak.

Aan die begin van ’n nuwe jaar neem ons besluite, meestal goeie ondernemende besluite wat ooreenkom met ons voornemens. Paulus het ook ’n voorneme gehad, ’n voorneme wat hom gedryf het en aangespoor het om aan te gaan met die belangrike werk wat hy in die koninkryk van God gedoen het. Ja dit was nie maklik vir Paulus nie. Ons ken al sy ontberinge en die moeilikheid wat hy in die proses gehad het. Hierdie teksvers in Filippense, wat hy skryf terwyl hy in die tronk is, spoor ons ook aan op ons Christelike wedloop wat ons as gelowiges in hierdie wêreld wil hardloop. Hoe wil ons as gelowiges en lidmate ’n verskil in ons wêreld maak? Dit moedig ons aan om sterk voornemens te maak en daarby te bly soos ons teksgedeelte dit sê: “Ek maak my los van wat agter is, en ek strek my uit na wat voor is.”

So dikwels kan die ou jaar my terughou en ontmoedig om vorentoe na ’n nuwe seisoen te beur. Dis waar die Here my weereens help om op koers te bly om voluit die wedloop te hardloop en te voltooi. Om my voornemens te laat realiseer soos vers 14 word dit so pragtig gestel:  “Ek span my in om by die wenstreep te kom”. Hoekom? Hoekom is dit so belangrik om in hierdie geestelike doelwit te slaag? “Sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Jesus Christus”.

Vriende kom ons maak hierdie nuwe, onsekere jaar dit ’n duidelike, alles-oorheersende voorneme. Ons wil klaar maak! Ons wil dit wat in ons lewens gebeur so rangskik dat dit  alles tot God se eer sal wees. Ons voorneme is om klaar te maak, en om hierdie prys te verower wat vir ons belowe is. Sterkte vir die wedloop van 2021.

Gebed

Here, hou my op koers. Help my om my los te maak van dit wat agter is en te strek na wat voor is. Ook om my in te span om by die wenstreep te kom sodat ek ook die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in in Jesus Christus. Amen.