Johannes 3:4. Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ’n mens gebore word as hy al ’n ou man is? Hy kan tog nie ’n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”
Effesiërs 5:16. “Maak die beste gebruik van elke geleentheid, want ons lewe in moeilike tye. Moet daarom nie onverstandig optree nie, maar probeer te wete kom wat die Here wil dat julle moet doen.”
“Moenie bekommerd wees as slapeloosheid en depressie die tyd van die jaar op jou toesak nie,” sê ’n mens gewoonlik aan die einde van die jaar vir iemand. Hierdie trooswoorde kom ook in Europa voor waar mense weer vir mekaar sê moenie slaaplose nagte hê nie as depressie op jou toesak nie, dit is gewoonlik die Fõhn se skuld. Dit verwys na die warm woestynwind wat oor die Middelandse See na Suid-Europa waai. Dan vertel hulle jou ook sommer van die I’Aigle, die wind wat die nare sand uit die Sahara saam met hom bring en dan is daar ook die koue Mistralwinde wat in die wintermaande van die hooglande van Frankryk suidwaarts beweeg en mense en diere laat bibber van die koue.
Ons wat hier in die Kaap woon, kan ons spog met die Kaapse Suidooster. Die mense in Gauteng beleef weer in Augustusmaande die wind. In die Bybel het mense soos Jona, Eliah en later ook Paulus te doen gekry met die vernietigende krag van stormsterkwinde in die berge, op die vlaktes en op die see. Ek het vanoggend gelees van die avonturuur wat op sy alleenvaart na Amerika, sonder enige ondersteuning, golwe van 4 meter en stormsterkwinde op die see beleef het. Maar as God op die toneel verskyn, dan raak die storm stil. Soos ons reeds in die eerste vers van die Bybel lees, het die gees van die Heilige Gees oor die water gesweef. So verkies God ook om met sy kind, Eliah te praat. Nie in die baie sterk wind nie, maar in die fluistering van die windstilte. Die Heilige Gees doen ook sy werk van die nuwe lewe, soos ’n sagte wind en daarom sê hierdie mooi teksgedeelte in Johannes 3 hoe God sy Gees in ons laat werk. Omdat ons Hom kan ken, en in ’n verhouding met hom kan staan. Die wind waai waar hy wil, jy ken sy geluid maar jy weet nie waar hy vandaan kom nie en waarheen hy gaan nie.
So gebeur dit met elkeen wat deur die Gees van God gebore is. So het Jesus God se werk aan Nikodemus verduidelik. Die groot behoefte van mense in ons tyd, is die behoefte aan stilte. Groot dinge gebeur in die fluistering van die windstilte. Daar kry die mens kans om te dink, en te luister. Groot ontdekkings kom gewoonlik tot stand wanneer ’n mens alleen is, en wanneer jy tyd het om te dink. Maak in hierdie jaar tyd om Jesus in die windstilte te ontmoet. Hy wil met jou en met my praat soos met Eliah. Van daar kan jy uitstap in die lewe se stormwinde en ook die slaaploosheid en depressie waaraan so baie mense van ons tyd blootgestel is, tegemoet gaan.
Gebed
Here dankie dat U met ons praat deur u gees, van bo. Dankie vir die gestalte van u stem, ook in hierdie vreemde tyd waarin ons leef. Amen.