Markus 6:37 & 38. Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Hulle antwoord Hom: “Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?”
Hy vra vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.” Nadat hulle gaan kyk het, sê hulle: “Vyf brode, en twee visse.”
As ’n mens die verhaal vir die eerste keer lees, dan dink jy dit is ’n ongelooflike storie. En dan bedoel ons met ongelooflik eintlik ongeloofwaardig, want dink nou net vir jouself in – vyf broodjies en twee vissies moes aan baie meer as 5000 mense voorsien. Wat hier gebeur het was ’n wonderwerk, ’n geloofwaardig en wonderlike wonderwerk. ’n Wonderwerk uit die hemel uit.
Dit konfronteer ons met die vraag: Wat is ek bereid om tot die Here se beskikking en vir sy gebruik, te stel? Dit wat ek kan bring is wat Jesus kan gebruik. Ons het dalk nie veel om te bied nie, maar Hy gebruik dit wat ons bring. Daar is geen perke aan wat Jesus kan doen met dit wat ons vir Hom bring nie. Jesus neem hier wat ’n klein seuntjie bied om hierdie wonderwerk van die vermeerdering van die brood en vissies te laat plaasvind.
Waarskynlik wou Jesus nie net hier die geloof en vertroue van sy dissipels versterk nie, maar ook aan die skare toon dat Hy die eenvoudige bydrae van ’n klein seuntjie kan gebruik om sy werk te doen en sy Koninkryk te laat kom. In Jesus se hande word ’n seun se eenvoudige inhoud van ’n piekniekmandjie ’n magtige instrument.
Daarom vra Hy ook vir jou en my om dit wat ons het na Hom te bring, sodat Hy dit kan gebruik tot die geestelik en liggaamlik voeding van die wêreld. Bring dit wat jy het, jou gawes, talente, jou tiende, jou tyd, energie en kragte. Bring dit na die Here en kyk na die wonderwerke wat Hy daardeur kan verrig.
GEBED
Heilige Here, as U die eenvoudige geskenk van ’n seuntjie, vyf brode en twee visse, kon gebruik om duisende mense kos te gee, wil U nie asseblief ook ons lewe neem en dit gebruik om ander mense te help nie. En wanneer ons soms vol verskonings is, vergewe ons asseblief daarvoor. Amen.