Filippense 2:12b-13.”Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”
GEDAGTE
Een van die uitstaande kenmerke van die fliek, Babe, is die klein varkie se geweldige begeerte om die regte ding te doen. Hy is altyd gereed om te doen wat nodig is. Wanneer die gans hom vra om die wekker in die baas se kamer te gaan haal, gaan Babe sonder om te skroom al beteken dit dat hy in ’n groot gemors beland het nadat hulle die verf omgeskop het en die hele kamer bemors het.
Wanneer hy agterkom dat ’n klompie rondloper honde groot moeilikheid onder die skape veroorsaak en besef dat dit net hy is wat iets kan doen, dan takel hy hulle sonder om eers twee keer daaroor na te dink, en slaag selfs wonder bo wonder daarin om hulle weg te jaag. Die verhouding tussen hom en sy baas, Farmer Hoggit (James Cromwell), is kosbaar. Sy oë volg elke opdrag en beweging van sy baas.
Soos Babe moet ons ook gewillig wees om reg te leef. Ons is as lig en sout op hierdie aarde geplaas om ’n verskil te maak. Die verskil kom duidelik uit in ons gedrag. Deur die voorbeeld van Jesus te volg kan ons gehoorsaam wees aan die wil van die Vader. Maar ons weet dat dit uit ons eie krag nie moontlik is nie. Daarom moet ons elke dag die Heilige Gees vra om ons te help en te lei. Dit is Hy wat ons gewillig en bekwaam maak.
GEBED
Heilige Gees, o vul my nou
Ek wil totaal op U leiding vertrou
Dan alleen kan ek vrugte dra
Dan alleen kan ek doen wat U vra.