Psalm 88:2-3. Here my God wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep.
Daar word vertel van ’n man wat op die dak van sy huis skuiling gesoek het omdat die vloedwater rondom hom gestyg het. Hy bid toe: “Here, red my, help my asseblief uit hierdie moeilikheid.” Sy geloof was baie sterk. Daar kom toe ’n reddingsboot verby, en die mense vra hom om in te klim. “Nee dankie,” was sy antwoord. “Die Here God gaan my red.” Die water styg. Later kom daar ’n helikopter verby wat ’n tou na hom toe wil afgooi, sodat hulle hom kan optrek en red. “Nee, dankie,” sê die man weer. “Die Here gaan my red.” Uiteindelik styg die water so dat die man moet swem. Hy ontvang geen verdere hulp nie en verdrink. Toe hy by die poorte van die hemel kom vra hy vir die Here: “Here, ek het met geloof gebid en gevra dat U my sal red. Waarom het U my gebed nie verhoor nie?” En God antwoord Hom: “Ek het ’n reddingsboot gestuur, maar jy wou nie inklim nie. Ek het ’n helikopter gestuur, maar jy wou nie opgehys word nie.”
Een ding kan ons verseker weet die Here hoor wanneer ons bid. Ons gebede word soms anders beantwoord as wat ons verwag het. Maar die Here vergeet ons nie, Hy ignoreer ons nie. Hy is daar om te help. Soms op ongewone en unieke maniere. Soms op die Here se tyd. Maar altyd getrou.
GEBED
O Here dis so goed om te weet, U los ons nooit alleen. U gee my elke dag rede om te glo dat U by my is. U is verseker teenwoordig te alle tye en op alle plekke. O Here ek kan nie hierdie jaar sonder U begin nie. Wees my naby en vat my hand. U is getrou. Amen