Gedagte vir die dag | Sondag 3 Januarie 2021

Psalm 91:15. “Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees, Ek sal hom red en hom in sy eer herstel.”

Ons word geleer dat deel van volwassenheid beteken dat ons beheer oor die emosies wat in ons leef moet uitoefen. Dit is beslis so dat lewenservaring ons help om nie altyd die bobbejaan agter die berg te gaan haal,  of ’n berg van ’n molshoop te maak nie. Tog, is dit egter ook nie ’n geval dat hierdie emosies skielik net met volwassenheid verdwyn nie. Ons steek hulle miskien net beter weg. ’n Belangrike aspek van geloofsvolwassenheid is die vermoë om soos ’n kind met vrymoedigheid na God te gaan. Dit is waaraan die teks ons vandag herinner. Wat is die rou gevoelens wat in jou leef? Kan jy dit vandag op ’n eenvoudige maar reguit manier vir die Here kom gee?

Gebed

God bo my en onder my en agter my en voor my; in my en om my; God oral en êrens; somtyds en altyd. God gister en môre en eendag. God hier by my nou. Amen