Gedagte vir die dag | Saterdag 2 Januarie 2021

Deuteronomium 31:8. “Die Here sal voor jou uitgaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”

Godsdiens en God word dikwels deur mense beskryf as ’n illusie, omdat dit nie tasbaar en toetsbaar is soos die feite en wette van die wetenskap nie. Daar is altyd ’n argument om God se teenwoordigheid nietig te verklaar en dit eerder aan blote natuurlike prosesse toe te skryf. Hoe kan jy op iemand vertrou wat jy nog nooit gesien het nie? Met die woorde van vandag se teks neem Moses van die volk afskeid as hy hulle die onbekende instuur. Hy het God enkele kere op ’n besondere manier ontmoet, maar het die grootste deel daarvan geleef in die geloof dat God in die gewone van alles wat met hom gebeur by hom is. Voel jy ver van God omdat jy lanklaas iets van God se teenwoordigheid beleef het?

Gebed

O Here, my God, wys my tog hoe en waar my hart U moet soek; waar en hoe ek U kan vind. Heer, as U afwesig is, hoe moet ek U dan soek, en wat moet ek doen met my gemoed? As U orals is, moet U mos hier ook wees? Wys my dan nou hoe ek U moet benader. Amen.