Gedagte vir die dag | Vrydag 1 Januarie 2021

Psalm 5:3-4.  “Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God. U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.”

Die Here is deurentyd by ons en ons kan in elke oomblik van die dag in hierdie bewussyn leef, en daar is waarde daarin om jou vir ’n oomblik in die dag aan die wêreld te onttrek en op God te fokus. Dit is die insig wat ons teksgedeelte vandag met ons deel. Ons staan elke oggend op met ’n lys gedagtes van wat vandag moet gebeur en probeer so vinnig moontlik daarby uitkom om die rus te kan beleef van werk wat afgehandel is. Tog is daar ’n ander manier om hierdie eerste dag van 2021 in te gaan.  Met die belofte van rus van die begin af. Wat ook al vandag en die komende jaar op jou wag – die Here sal by jou wees. Raak bewus daarvan dat Hy op ’n besondere wyse in jou gedagtes, deur mense en gebeure saam met jou deur die jaar gaan stap. Vier dit nou in hierdie stil oomblik van ’n nuwe jaar.

Gebed

Here God, ek het vanmôre vreugde in die lewe; ek dank U vir hierdie nuwe dag. Ek gooi my vreugde in die lug op – soos die voëls, want die nag het weggefladder, en ek verheug my oor die lig van ’n nuwe dag en jaar.  U son het die dou weggebrand van die gras en die donker uit my hart verdryf.  Daarom is die woorde wat vanoggend uit my mond kom, net vreugde en dank.