Kolosense 3:1-3. “Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.”
Ons laat ons maklik onderkry deur hedendaagse gebeure wat deur die nuus beskryf word, maar nie eintlik ons lewens prakties aanraak, of verander nie. Dit verander wel ons geestlike ingesteldheid en maak ons baie skepties oor waarheen dinge in die wêreld op pad is. Dit haak dan maklik aan ’n persepsie van ’n wêreld wat toenemend boos is en alles wat iewers in die toekoms in duie gaan stort. Ons teksgedeelte moedig ons aan tot ’n meer positiewe en opbouende lewensingesteldheid rakende ons aardse realiteite. God heers en regeer vandag bo ons begrip en verstand en hierdie geloof stel ons in staat om te midde van chaos en onsekerheid betekenisvolle lewens te leef. Wanneer ons “strewe na die dinge wat daarbo is”, kry die aarde lewe juis vir ons nuwe betekenis. Watter negatiewe gedagtes oor die hede en toekoms is besig om oor jou die oorhand te kry? Sien dit vanuit die perspektief dat God het reeds die oorwinning behaal en laat dit jou siening oor die nuwe jaar wat voorlê verander.
Gebed
Met die asem van u Gees, o God, reinig U die hart en die denke van u kinders; troos U die wat treur; lei U hulle terug wat afgedwaal het; verwarm U met u liefde die harte wat koud geword het, bind U hulle wat verdeeld geraak het, weer saam. Skenk ons nou in hierdie laaste oomblikke van die ou jaar lig sodat ons daarmee in ons, en voor ons, deur hierdie wêreld mag gaan sonder om te struikel of af te dwaal.