Deur: ds. Marius Breytenbach
Die jaar 2020 sal nog lank onthou word as ’n jaar van groot uitdagings wat ons lewens op verskeie maniere geraak en verander het. Op verskeie terreine is ons gedwing tot heroriëntering en daarom wil ons almal aanmoedig om in 2021 deel te neem aan ons Bybelleesprojek en daardeur opnuut te beleef hoe dit jou lewe op God kan rig.
Die meeste van ons het met die Bybel grootgeword en is geleer dat dit sentraal in ons geloofsvorming staan. Alhoewel ons geleer is dat ons die Bybel gereeld moet lees, het ’n mens dit dalk nie in die praktyk toegepas nie. Dit mag ook wees dat wanneer ons die Bybel lees, ons verkies om weer en weer die ou bekende gedeeltes na te slaan en sodoende verby die minder bekende gedeeltes blaai. Hoe loop jou eie pad met die Bybel?
Raak so deel van die Bybelleesprojek:
Stellenberg-Bybelskool bied ’n Bybelleesprojek vir 2020-’21, wat reeds op 30 November 2020 begin het, aan. Die kursus is ook aanlyn op ons webwerf (www.stellenberg.co.za) beskikbaar.
- Die 2020-Bybelvertaling het pas verskyn. Oorweeg om juis hierdie Bybel aan te koop en in die leesprojek te gebruik. Daar is ’n kort kursus op ons webblad om jou aan die nuwe Bybel bekend te stel en kortliks te verduidelik hoe die veskillende Bybelvertalings en die metodes wat in vertalings gebruik is, van mekaar verskil.
- Bekom ’n gratis Bybelleesgids wat deur die Bybelgenootskap saamgestel is. Dit kan by die kerkkantoor, of op Sondae by die eredienste afgehaal word. ’n Mens kan egter enige Bybelvertaling gebruik om op jou eie tyd stelselmatig deur die Bybel te lees.