Jakobus 1:2-3: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.”
Was dit vir jou ook ‘n moeilike jaar?
2020 sal altyd bekendstaan as die jaar met baie uitdagings en ongekende krisis situasies. Daar kan in dié verband maar slegs na die Covid-19-pandemie verwys word asook die droogte wat groot dele van ons land lam gelê het. Miskien was dit ook persoonlik vir elkeen van ons ’n jaar met baie beproewinge en uitdagings.
Oswald Chambers het per geleentheid oor uitdagings en beproewinge gesê: “Trails are God’s vote of confidence in us”. Dit is asof God deur sulke beproewinge ons wortelsisteem, wat ons vashou en sterker maak, ontwikkel. Dit is baie keer die manier waarop Hy karakter in ons ontwikkel.
Ek lees van ’n man wat per geleentheid ’n vlinder wat besig was om uit sy kokon te ontsnap, of gebore moes word, gesit en dophou het. Die vlinder het verskeie ure probeer om uit te kom, en het toe skielik gestop. Dit kon net nie verder nie. Die man het besluit om die vlinder by te staan deur die gaping van die kokon effens oop te sny sodat dit groter is, en die vlinder so in staat te stel om homself te bevry. Min het hy geweet, dat hierdie goedhartige poging die vlinder se doodsvonnis sou wees. Want toe die vlinder die kokon ontsnap, was dit nog nie volledig ontwikkel nie. Die vlinder se lyf was geswel, en sy vlerke nog onder ontwikkel. Die beperking van die kokon wat nie kon oopgaan nie, was die natuur se manier om hom eers vas te hou sodat bloed na sy vlerke beweeg om so die swelsel van die lyf te laat sak. Ongelukkig het die vrye vlinder nie ver gekom voor dit dood is nie.
Baie keer gebeur dit ook dat uitdagings en beproewinge juis dit is wat ons nodig het in ons lewe. Inperking, terughou, of watter uitdaging ook al, kan dalk dit wees wat ons help ontwikkel om voorbereid te raak vir ’n volgende situasie. Jakobus maak dit ook duidelik in hierdie gedeelte dat die lewe dikwels baie beproewinge oor ons pad bring juis om ons ’n sterker karakter te gee, wat tot groter volwassenheid lei.
As God ons toegelaat het om sonder sulke struikelblokke of beproewinge deur die lewe te laat gaan, sou dit ons dalk kreupel gelaat het. Sou ons dalk nie so sterk kon gewees het, soos ons moes gewees het nie. Ons sou nooit kon vlieg nie.
Gebed
Here, ek wil graag anders dink oor al die beproewinge en moeilike tye wat oor my pad kom. Help my om daardeur te leef, dit te aanvaar, en te weet dat dit manière is waarop U my wil help om te ontwikkel en te volhard. Amen.