Prediker 3:13: “Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God.”
Wat maak regtig saak in die lewe? Sal ons ooit genoeg hê, en sal die goed wat ons met moeite en verdriet bymekaar maak, regtig vir ons vreugde en ’n vol lewe gee?
’n Boot het eenmaal aangedoen by ’n klein Thaise dorpie. ’n Amerikaanse toeris het die Thaise visserman gekomplimenteer oor die kwaliteit van sy vis, en vir hom gevra hoe lank dit hom geneem het om die vis te vang? “Nie baie lank nie” het die man geantwoord. “Maar hoekom het jy dan nie nog langer op die boot gebly en nog meer visse gevang nie?” het die Amerikaner gevra. Die visserman het toe verduidelik dat sy klein vangs genoeg was om aan sy behoeftes te voldoen en ook aan dié van sy familie.
Die Amerikaner het hom toe gevra: “Maar wat doen jy met die res van jou tyd?” “Ek slaap laat in die oggende, vang ’n bietjie vis, speel met my kinders, vat ’n siesta saam met my vrou, saans kuier ek saam met my vriende en speel kitaar. Ek het ‘n vol lewe!”
Die Amerikaner onderbreek hom toe, “Ek het ’n MBA aan die Harvard Universiteit behaal, en ek sal jou help! Jy moet begin deur elke dag langer vis te vang. Dan kan jy die ekstra vis verkoop en met die ekstra inkomste sal jy vir jou ’n groter boot kan koop”. “En na dit?” vra die Thaise visserman. “Met die ekstra geld, en die groter boot kan jy dan jou vloot van bote uitbrei en in plaas daarvan dat jy jou vis aan ’n middelman verkoop kan jy direk met die fabriek onderhandel om dit aan hulle te verkoop. Jy kan dan hierdie klein dorpie verlaat en in die hoofstad gaan bly. Van daar kan jy ’n groot onderneming ontwikkel en bestuur.”
“Hoe lank sal dit neem?” het die visserman gevra. “20, miskien tot 25 jaar” het die Amerikaner geantwoord. “En na dit? As ek dit alles het, wat dan?” “Wel, dan kan jy begin om aandele te koop en te verkoop en miljoene dollars te maak.” “Miljoene? Regtig? En dan na dit?” vra die visserman weer. “Na dit, sal jy in staat wees om te kan aftree en in ’n mooi, klein dorpie naby die see te kan bly, laat te slaap, met jou kinders te speel, ‘n paar visse te vang, ’n siesta saam met jou vrou te neem en jou aande saam met jou vriende deur te bring.”
Hierdie is nie ’n aanmoediging om lui te wees en nie te werk nie, maar verseker ’n les in waardes en prioriteite. Om ons te laat dink oor wat werklik saak maak, en om te doen wat ons elke dag doen. Tevredenheid moet ’n oorheersende woord in ons woordeskat word.
Gebed:
Here, leer my om elke dag te waardeer wat ek het, en om nie altyd na die groter dinge te streef nie. Help my om my geluk te vind in wat ek het, ’n tevredenheid met dit wat U vir my gegee het. Amen.