Jesaja 53:2. “Die dienaar was soos ‘n loot wat voor die Here uitspruit, soos ‘n plant wat wortel skiet in droë grond. Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie”.
Dit is ’n dag na Kersfees, en ek vertrou dat julle ook ’n wonderlike dag en feestyd saam met geliefdes en vriende beleef het.
Tydens ’n Oukersdag, lank gelede, het ’n ou skoenmaker gedroom dat Jesus hom die volgende dag sou besoek. Die droom was so duidelik, dat hy oortuig daarvan was dat dit waar sou word. Die volgende oggend het hy vroeg en opgewonde opgestaan om te wag vir Jesus se koms.
’n Ou man was sy eerste besoeker, wat skuiling kom soek het teen die winterkoue. Die skoenmaker het na sy winkelrak toe gegaan en vir die ou man ’n paar nuwe skoene gegee en hom vriendelik gegroet. Toe kom daar ’n honger ou vrou in, en hy het gou ontdek dat sy vir dae lank geen kos gehad het om te eet nie. Hy gee toe vir haar ’n heerlike maaltyd voordat hy haar groet en wegstuur. Maar steeds het Jesus nie gekom nie.
Toe hoor hy iemand buite in die straat voor sy winkel huil. Toe hy uitgaan, sien hy dat dit ‘n klein seuntjie is wat verlore geraak het. Die skoenmaker het sy jas aangetrek en die seuntjie na sy ouers geneem. Teen die einde van die dag, toe dit tyd was om sy winkel te sluit, het hy uitgeroep: “O Here Jesus, hoekom het U toe nie gekom nie?” En toe in ’n oomblik van stilte, hoor hy ’n stem wat vir hom sê: “O skoenmaker, wees gerus! Ek het by My woord gehou. Drie keer het ek aan jou winkel se deur geklop, drie keer het jy my vriendelik verwelkom en My gehelp. Ek was die man met die stukkende skoene. Ek was die vrou wat honger was, en jy het vir My iets gegee om te eet. Ek was die verlore seun in die straat voor jou winkel”.
Jesus het inderdaad gekom. Die skoenmaker het Hom net nie herken nie. Ons weet ook dat Jesus as ’n byna vreemde, arm, hulpelose figuur na hierdie wêreld gekom het. Hy was nie ’n prins of ’n heerser wat in prag en praal geheers het nie. Hy was eenvoudig met ’n voorkoms wat niemand twee keer na Hom sou laat kyk het nie.
Moeder Teresa het haar eie gawe beskryf as die gawe om Jesus te midde van die haglikste omstandighede raak te sien. Mag God ons ook help om Hom ter alle tye te herken. Veral oor hoe ons teenoor noodbehoewendes optree. Hyself het ons immers in Matteus 25 gewaarsku: “Wat jy ookal aan die geringste van hierdie doen, doen jy ook aan My.
Gebed: Here, help my om U werklik in alles om my te herken, en dat ek dan in geloof en met aksie daarop sal reageer. Amen.