Lukas 1:47: “Ek juig oor God, my Verlosser!
Dit is Kerfees 2020! Baie, baie geseënde Kersfees vir elkeen van julle. Dit is ook my gebed dat vandag vir julle ’n vreugdevolle fees sal wees in die teenwoordigheid van geliefdes naby julle, maar veral in die teenwoordigheid van die drie-enige God.
As ons vandag die vreugde van Kersfees ervaar, is dit so belangrik om weer terug te kom na die ware vreugde van ons verlossing in Jesus Christus. Nie almal is vandag baie opgewonde oor Kersfees nie. Vir party is dit ’n droewige tyd omdat daar in die afgelope jaar baie verliese was. Vir diegene is dit dan eintlik ’n donker dag, en ’n donker Kersfees, en ons harte gaan regtig uit na sulkes. Ander is weer pessimisties oor hoe die wêreld lyk en bekommerd oor waarheen die wêreld gaan! “Waarby het die wêreld aangekom?”
Stanley Jones, het ’n baie positiewe stelling gemaak in 1842 in ’n dagstukkie in sy boek, Abandoned Living. “The early Christians did not say in dismay: ‘look what the world has come to!’ But in the light: ‘Look what has come to the world!’ They did not see merely the ruin, but the Resource for the reconstruction of that ruin. They have seen not merely that sin did not abound, but that grace did much more abound. On that assurance, the pivot of history, swung from blank dispair, loss of moral nerve, and fatalism to faith and confidence that at least sin has met its match.”
Mag ons vandag seëvier in ons verlossing in Christus. En as ons vandag die geskenke oopmaak en uiteindelik die geskenkpapier weggooi, kom ons dink daaraan dat indien ons grootste behoefte informasie was, dan sou God vir ons ’n opvoeder gestuur het. As ons grootste behoefte tegnologie was, dan sou God vir ons ’n wetenskaplike gestuur het. As ons grootste behoefte geld was, sou God vir ons ’n ekonoom gestuur het. As ons grootste nood en behoefte plesier was, sou God vir ons ’n vermaaklikheidskunstenaar gestuur het. Ons grootste behoefte en nood was egter vergifnis, en daarom het God vir ons ’n Verlosser gestuur.
Gebed: O Here, op Kersdag 2020 dank ons U vir die Verlosser wat vir ons gebore is. Dankie dat ons ook kan uitroep: “Ek juig oor God, my verlosser!”. Dankie dat U gekom het om elkeen van ons se sonde te vergewe. Amen.