Gedagte vir die dag | Saterdag 12 Desember 2020

Jesaja 9:6.  ” Sy heerskappy sal uitbrei, en Hy sal vir altyd vrede en voorspoed bring. Hy sal op die troon van Dawid sit en oor sy koninkryk regeer. Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here die Almagtige sorg.”

BOODSKAP

Die volk ontvang hierdie wonderlike belofte dat ’n koning gebore sal word wat hulle sal kom verlos. Hierdie voorspelling het ook vir ons betekenis wat die boodskap van die Nuwe Testament ontvang het. Ons glo dat Jesus Christus hierdie Koning is wie se mag en Koninskap geen einde het nie. Soos ons ook lees in Lukas 1:33: “en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”

As Jesus dan gebore word, is dit van die begin af duidelik dat Hy ’n Koning is. Die engel wat vir Maria kom sê het dat Jesus uit haar gebore sou word, het ook vir haar gesê dat die Here God aan hierdie Jesus die troon van sy voorvader Dawid sou gee en dat Hy as Koning sal heers tot in ewigheid. En toe Hy gebore is, het die wyse manne uit die ooste daar in Jerusalem kom vra: Waar is Hy wat as Koning van die Jode gebore is?

Kersfees is nie net die herdenking van Jesus se geboorte nie, maar die herdenking van die geboorte van ‘n Koning. Dit is die Koning van die hemele wat in ons sigbare wêreld inkom en daarom het ons in Kerstyd ‘n koningsfees, en die manier waarop ek en jy Kersfees vier, wys watter Koning ons aanbid en watter Koning se koms na die aarde toe ons vier. Jesus is die ware Koning wat vir ons gebore is.

Hierdie Jesus wat as Koning in ’n krip gebore is en as Koning aan ’n kruis gesterwe het, sal eendag weer terugkeer om as Koning oor alles en almal te regeer. Jesus as Koning sal nooit onttroon word nie.  Hy kán nie onttroon word nie. Hierdie Koning gaan nooit uitgestem word nie.  Hy’s in elk geval nie deur ’n verkiesing as Koning aangewys nie, maar deur ’n Goddelike aanstelling.

GEBED

En in my hart is daar ’n lied van dankbaarheid

Aan U my God aan U my Vriend

Vir wat U doen in my lewe elke

Net waar ek gaan net soos ek is.

Daar is niemand wat my hart kan raak soos U

My kan optel en vashou,

Daarom gee ek U al die eer.

Met my hande omhoog

Met elke klank wat ek sing wil ek U kom verhoog

En al my lof aan U bring want U is my Skepper my Vriend

Die heemle lig U omhoog

U word vir ewig vereer, my Koning Heer. Amen