Jesaja 9:1.” Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.”
Vir die volgende drie dae gaan ons stilstaan by die pragtige teks in Jesaja 9. Net kortliks ’n bietjie agtergrond oor die teksgedeelte. Die profesie van Jesaja moet in die lig van die Siro-Efraimitiese oorlog (735-732 v.C.) gelees word. Ons moet onthou die teks is nie geskryf vanuit die agtergrond van die gebeure in die Nuwe Testament nie. Hierdie teks is geskryf vir ’n moedelose volk wat in ballingskap weg gevoer gaan word.
Vir die volk Israel was die toekoms inderdaad baie donker. Die uitverkore volk gaan as ballinge na die staat Assirië weggevoer word. Hulle sal as ballinge ver weg van alles wat vir hulle kosbaar is, moet oorleef. Hulle land, dit wat deur God aan hulle gegee is, gaan geplunder word en daarvan sal niks oor bly nie. Dit is ’n droewige situasie. Somber, tragies, verlore en geen hoop is woorde wat hulle situasie goed kon beskryf.
Teen dié donker agtergrond van die volk se politieke en geestelike nood, sien die profeet die lig van redding en bring hy dit in verband met die geboorte van ’n verlosser. Die lig van redding en bevryding sal weer oor hulle skyn. Die Here gaan Sy volk weer herstel. Hulle sal verstrooi word en sal net as ’n klein groepie bly voortbestaan, maar die Here gaan hulle herstel om weer ’n volwaardige volk te wees.
Die volk word bemoedig dat ’n tyd sal kom wanneer al die donkerte en swaarkry iets van die verlede gaan wees. Die volk wat in donkerte gehul is a.g.v. die ballingskap sal weer lig kan sien. God wie se hart so vol barmhartigheid en liefde is, kan nie toesien dat sy volk in hierdie hopelose toestand bly nie. Daar sal weer vreugde wees.
Vandag weet ons dat Jesus die ware Lig is wat in geestelike donkerte vir ons lig gebring het. Mag jy dit onthou in hierdie feestyd as jy kersliggies sien brand of ’n kers aansteek. Die ware Lig het ook vir jou na die aarde gekom. Kom ons bid saam hierdie pragtige Engelse lied.
GEBED
LIGHT OF THE WORLD YOU STEPPED DOWN INTO DARKNESS OPENED MY EYES; LET ME SEE:
BEAUTY THAT MADE THIS HEART ADORE YOU;
HOPE OF A LIFE SPENT WITH YOU SO, HERE I AM TO WORSHIP HERE I AM TO BOW DOWN
HERE I AM TO SAY THAT YOU’RE MY GOD YOU’RE ALTOGETHER LOVELY;
ALTOGETHER WORTHY ALTOGETHER WONDERFUL TO ME.
AMEN