Gedagte vir die dag | Woensdag 9 Desember 2020

Johannes 1:14.  ” Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.”

Die evangelie van Johannes begin deur Jesus as die Woord van God, aan ons bekend te stel. Die Griekse woord logos word gebruik vir woorde en gedagtes. Johannes gebruik logos as eienaam vir Christus. Jesus is God en is God se diepste kommunikasie met ons.

Dit is waaroor Kersfees gaan, wil Johannes vir ons onderstreep: Met Jesus se geboorte het God aarde toe gekom, mens geword, om met ons te kom praat. Daarom noem Johannes die Seun van God, die Woord, want dit is wat Hy kom doen het – deur Jesus het God sy boodskap van genade en waarheid aan ons kom oordra. Die Hebreërskrywer (1:1-3a) stel dit só: In die verlede het God dikwels en op verskillende maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun.

In Jesus kom God aan die woord; hoor ons God praat.  Wat ons nou by die groot vraag bring: Hoor ons God nog praat?  Hoor ons nog Sy stem?  Want in die moderne wêreld word ons oorlaai deur die geraas van die media en deur ander stemme wat meeding om ons aandag.   Dit raak later so ’n groot gedruis dat ons God nie meer goed kan hoor nie. En ons gaan nou die Kersseisoen in waartydens die geraas nóg groter word.

God se Woord word mens. Dit is die hart van Kersfees, sê Johannes 1. Hy het aarde toe gekom, want Hy wil met ons praat. Maar as ons nie stil word en die geraas van die lewe om ons afskakel nie, gaan ons Hom nie hoor nie.

 GEBED

Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.

Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!

In ons donker harte, stuur Hy weer sy lig.

Hy kom na die aarde, om ons op te rig!

Kniel voor ons Koning, laat ons voor Hom buig.

Bring aan Hom die ere, laat ons harte juig!