Jakobus 4:17. “As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde.”
Vandag praat Jakobus met ons oor sondes. Wat is sonde? Is dit goed wat mense verkeerd doen? Sou jy vandag ’n paar sondes kon opnoem? Dit wil dikwels vir my lyk asof ons sondes net tot ’n beperkte kategorie dade, wat met moraliteit en seksualiteit verband hou, geïsoleer het. Dit is maklik om sulke dade in die Bybel te vind en hulle in mense se gedrag uit te wys. Al gehoor van sondes van versuim? Dit is nie soseer iets wat ons verkeerd doen nie, eerder die gebrek om wel om in ’n gegewe situasie die regte ding te doen. Dit is so maklik om hierdie sondes van versuim na die kant te skuif. Hoe praat die Here vandag met jou hieroor?
Gebed
Heilige Gees, Transformeerder van die wêreld, laat die helende krag van God se liefde my vandag so omvorm, nee, so geheel herskep dat ek ’n instrument sal word wat U kan gebruik. Wys my watter rol ek kan speel om die wêreld as ’n plek van korrupsie, lyding, verganklikheid te help transformeer tot ’n gebied waar U lig, en vreugde en liefde die deurslag gee. Maak my so gehoorsaam aan U, o Gees van nuwe moontlikhede, dat my lewe ’n lewende gebed sal word, ’n getuienis van u troue teenwoordigheid in elke tyd en omstandigheid (Martin Israel).