Om die oudste pelgrimstog ter wêreld aan te pak

Indien jou voete dalk reeds lankal jeuk om die bekende Camino-pelgrimstog aan te durf, lees gerus hier oor Mariette en Chris Opperman se staptog wat hulle in 2019 aangepak het.  Stellenberger het met Mariette gaan gesels om meer te wete te kom rakende hulle belewenis van dié wêreldbekende pelgrimstog en waarvoor diegene wat beplan om ook dié tog te onderneem, op hul hoede moet wees.

Jy en Chris het 35 dae lank gestap, vanaf 7 September tot 12 Oktober 2019.  Julle het dus 35 dae lank gestap.  Is dit hoe lank dit ’n mens neem om die roete te voltooi?   Sou jy sê September/Oktober is ’n goeie tyd, wat weer aanbetref, om die pelgrimstog aan te pak? 

Daar is verskeie roetes wat op verskillende plekke in Europa begin en by Santiago eindig.  Die roete wat ons gestap het, was die Camino Francés. Dit begin by St. Jean Pied de Port in die Pireneë en eindig 800 km later by Santiago de Compostela.  Volgens die Brierley-toergids se indeling stap ’n mens dit in 33 dae.  Die 33 dae verteenwoordig een dag vir elke jaar wat Jesus op aarde was.  Ons het ná Santiago nog aanhou stap tot by Finisterre aan die Spaanse kus en het dus twee dae langer as 33 dae gestap.

Die beste weer vir stap, volgens my, is gedurende September en Oktober, wanneer dit herfs in Spanje is.  Die dagtemperature wissel dan tussen 20 ºC en 30 ºC.  Gedurende die lente in April- en Meimaand reën dit dikwels en die somermaande in Spanje, Junie- en Juliemaand, raak ontsettend warm.

Hoe fiks moet ’n mens wees om die pelgrimstog aan te pak?

Ek beveel aan dat ’n mens stapfiks moet wees.  Dit is raadsaam om die eerste twee dae op die pelgrimstog nie verder as 15 km te stap nie, net om in ’n stapritme te kom en gewoond te raak aan die gewig van die rugsak, want om ’n rugsak te dra is nogal ’n aanpassing.

Hoe het julle voorberei om julle fiksheidsvlakke te verbeter?

Ons het ’n naweek in Houtbaai gaan bly en Chapmanspiek op en af gestap.  Met drie sakke suiker van 2.5kg elk in ons rugsakke het ons so 10 km geloop.

Ons het ook twee keer vanaf Durbanville Hoërskool deur Aurora na Meerendal toe gestap.  Dit is ’n lekker roete met ’n paar stewige opdraandes en die roete is ongeveer 17 km lank.  Toe het ons weer 17 kg se boeke in ons rugsakke gepak.  Die 15 km-roete in Majik Forest, hier naby in Proteavallei, is ook ’n goeie opsie om as ’n oefenroete te gebruik.

Die pelgrimstog, veral die gedeelte in die Pirieneë-bergreeks, het heelwat steil opdraandes, so dit sou wenslik wees dat ’n mens jou daarop voorberei.

Watter raad kan jy aangaande tekkies, sokkies, die dra van sakke en verblyf met ons deel?

  • Tekkies: Volgens my is ’n mens se gunstelingmaak-tekkie die beste keuse.  Jy stap die heeltyd op grondpad.  Ek het vir my K-Way-tekkies met ’n sogenaamde Vibram-sool by Cape Union Mart gekoop. Na 800 km het my twee taxi’s, soos Chris dit gedoop het, steeds soos ’n droom geloop.
  • Sokkies & Vaseline: Gewone drafsokkies met “inner socks” het vir ons goed gewerk. Ons het ook elke oggend ons voete met doodgewone Vaseline ingesmeer en na elke 8 km gestop en weer die voete met Vaseline gelawe. Ons was baie gelukkig en het nooit blase gekry nie.  Pleisters vir blase was wel volop en by enige apteek op die roete te koop.  Ons het ook gesien dat stappers wat hulle blase met ’n naald oopgesteek het, dikwels infeksie in die seerplek opgedoen het en dan moes hulle ophou stap.
  • Stapstokke: Ons het met K-Way-stapstokke gestap, waarsonder ons sekerlik nie so lekker oor die weg sou gekom het nie. Die stokke help ’n mens om jou gewig beter te verplaas en goeie balans te handhaaf.
  • Rugsakke: Die ideale afstand per dag is so 25 km, maar op die dae wat ons 30 km moes aflê, het ons ons rugsakke deur die koerierdiens wat op die roete beskikbaar is, vooruit laat stuur. Dit is ’n wonderlike diens – betroubaar en so maklik om te gebruik. Al wat jy hoef te doen is om jou rugsak by die blyplek waar jy oornag agter te laat, saam met 4 euro in ’n koevert, asook die adres waar die rugsak afgelewer moet word. Gedurende die dag dra jy dan net ’n klein rugsakkie met water, dokumente, versnaperinge en ’n selfoon daarin.
  • Skaapvelle: Tydens ons eerste oefensessie, nog in Suid-Afrika, het ek al begin voel hoe die rugsakbande my skouers seermaak. Ek het toe ’n blink plan beraam en Chris se ou skaapvelpantoffels opgesny en die skaapvelstroke onder my rugsak se bande ingedruk. Ek het nooit sonder die skaapvelle gestap nie en my skouers het ook nooit weer seergeraak nie.
  • Verblyf: Daar is natuurlik verskillende opsies beskikbaar en ’n mens moet kies wat by jou eiesoortige behoeftes pas.

– Munisipale verblyf bied gratis oornagfasiliteite aan pelgrims, maar ’n donasie van 5 euro word aanbeveel. Geen bespreking kan vooraf gedoen word nie en daar kan tot 80 persone saam in ’n lokaal slaap.  Slaapplek raak oor besige periodes ook vinnnig vol.

 – Albergues is volop. In die albergues slaap minder mense in ’n lokaal, gewoonlik so ag persone, maar dit kan meer of minder ook wees, en dit kos ongeveer tussen 5 en 15 euro per persoon.

– Apartamento’s, hotel, hostal of pensión: Dit was my en Chris se keuse vir oornagverblyf. Die opsie bied ’n mens die geleentheid om verblyf vooruit te bespreek en ons kon al ons verblyfbesprekings dus reeds in Suid-Afrika afhandel. Ons het tussen 30 tot 40 euro vir ’n dubbelkamer met ons eie badkamer, of soms ’n gedeelde badkamer, betaal.  Die verblyf was deurgaans silwerskoon en ons het oral baie lekker geslaap.

Die roete loop deur plattelandse dorpe.  Is die plaaslike mense vriendelik en behulpsaam?

Die plaaslike mense is baie vriendelik en behulpsaam, maar hulle Engels is baie beperk.  Die meeste inwoners op die platteland kan geen Engels praat, of verstaan nie. Google translate is van groot waarde.

Ek het voor ons vertrek het by Xavier, wat as Gabeer uitgespreek word, ’n paar Spaanse lesse geneem. Dit het darem gehelp dat ek woorde reg kon uitspreek en enkele sinne kon sê.

Wat doen ’n mens indien iemand in die stapgroep siek word, of ’n enkel verstuit, of erger?  Is daar hulp beskikbaar?

Die meeste dorpies op die Camino-roete is baie klein met gemiddeld 80 inwoners, maar daar is gewoonlik ’n apteek waar ’n mens hulp kan ontvang. In die groter dorpe sal daar ’n dokter beskikbaar wees.  Stappers help mekaar ook en daar sal altyd iemand wees wat bereid is om telefonies vir hulp te skakel.  Ek het ’n storie gehoor van ’n man wat ’n hartaanval langs die pad gekry het en daar is toe blykbaar binne 20 minute ’n helikopter gereël om hom na die naaste hospitaal te neem.

Vir diegene wat nie tyd het om die hele pelgrimsroete van 33 dae te stap nie, wat sou jy voorstel is die minimum aantal dae wat ’n mens behoort te stap en watter gedeelte van die roete sal jy dan vir sulke stappers aanbeveel?

Om ’n amptelike Compostela-sertifikaat te ontvang, móét ’n mens die laaste 100 km aflê en dit neem ongeveer vier dae van Sarria tot by Santiago.  Dit is ’n baie mooi area wat die landskap betref. Die moeilikheidsgraad van roetes verskil, maar ’n mens kan enige gedeelte van enige roete stap. Net solank jy by Santiago eindig.  Dit bly ’n onbeskryflike gevoel om uiteindelik op die plein voor die Catedral de Santiago te staan saam met ’n menigte ander uitbundige peregrino’s (pelgrims) wat oral staan, sit, lê en natuurlik vir honderde selfies poseer.

Watter landskap en dorpie was vir jou die mooiste op die roete? 

Ons het deur vyf verskillende landskappe gestap, waarvan die Navarra-streek vir my die mooiste was en Valcarlos (Vallei van Karel die Grote) die mooiste dorpie. Ek kan dit soos volg opdeel:

  • Die Navarra-streek is prentjiemooi.
  • Die Rioja-streek is bekend as die wynstreek.
  • Die Meseta-streek lyk soos ons Karoo.
  • León Solo bestaan uit plase en woude.
  • Galisië het ook plase en woude, maar saam met ’n kusgedeelte.

Is daar baie ander mense op die roete, of stap ’n mens meestal alleen? 

Daar was dae wat ons lang ente alleen gestap het, maar ons het tog altyd stappers iewers langs die pad raakgeloop. Hoe nader ’n mens aan Santiago kom, hoe meer mense is daar saam op pad.

Hoe lyk die veiligheidsaspek op die roetes?

Dit is juis een van die redes waarom dit so lekker is om die Camino te stap, omdat dit so veilig is.  Jy kan maar jou rugsak buite los as jy iewers koffie drink, of alleen deur die woude stap.  Ons het nooit iewers onveilig gevoel nie.

Wat maal deur ’n mens se gedagtes as jy elke dag so stap?

Brierley sê in sy boek om die Camino te stap, is ’n outer and inner journey.

  • My outer journey was om die Camino-roete fisies te stap.
  • My inner journey was om saam met die mense wat almal deel van my lewenspad is, of was, te stap.

Ek het vooraf vir my ’n lysie gemaak om elke dag saam met iemand, of ’n groep mense wat deel van my lewenspad is, of was, te walk & talk – mense soos byvoorbeeld my ouers, kinders, familie, kerkvriende, werksmense, skoolkennisse, bure, leeskringvriende en troeteldiere. Ons het gemiddeld sewe ure per dag gestap, so ek het lekker baie tyd gehad om met ou vriende in my gedagtes te gesels.

Help die stappery ’n mens om jou gedagtes uit te sorteer en ou spinnerakke ’n  bietjie uit te skud, of het jy dit nie self ervaar nie?

Daar is mense wat stap vir religieuse redes of om, soos jy dit stel, spinnerakke uit te skud. Ons het byvoorbeeld vir Béda, ’n pelgrim uit België ontmoet, wat op daardie stadium toe reeds vir drie maande gestap het, juis om haar kop skoon te maak.   Toe Chris vir haar vra: “Is your mind clear now?” antwoord sy: “Yes, now I have space for new problems”. Dit was vir my lekker om elke dag aan ’n tydperk in my lewe te dink en aan die mense wat daardie tyd van my lewe met my gedeel het.

Die Rooms-Katolieke Kerk het sy eie gebruike en tradisies.  Het jy tuis gevoel in die katedrale wat jy op die roete besoek het en kon jy die teenwoordigheid van die Here in die katedrale beleef?

O ja, as daar ’n kerkie of katedraal was, het ek eers ingegaan om ’n kersie aan te steek en om soos Izak de Villiers in een van sy boeke gesê het, “die heiligheid en stilword in die mistieke teenwoordigheid van God te beleef”.  Die prag en praal in elke katedraal was vir my asemrowend mooi.

Ons het ook die pelgrimsmis in Santiago se katedraal bygewoon. Dit is ’n belewenis wanneer die priester met sy gevolg binnekom en ’n 1 000 stemme in Spaans sê: “All people praise the Lord”. Die orrelspel, priester se sang en non wat soos ’n engel sing, het ’n heilige mooiheid geskep. Die diens was hoofsaaklik in Spaans, nagmaal is bedien en toe volg die botafumeiro.  Vanuit die sentrale koepel van die katedraal hang ’n silwer wierookbal wat 53 kg weeg en teen ’n spoed van tot 70 km per uur kan swaai, terwyl dit wierook vrystel.  Agt mans beheer die swaai van die bal met behulp van ’n ingewikkelde katrolstelsel.  In die Middeleeue is dit gebruik om die reuk van die onwelriekende pelgrims wat van Frankryk tot Santiago gestap het en  maande lank nooit gewas het nie, te verdryf.  Vandag is dit die simbool van die peregrino’s se gebede.

Wat was vir jou aangrypend tydens, of oor, die pelgrimsroete?

Die ontstaan en geskiedenis van die oorspronklike pelgrimsreis bly vir my aangrypend en baie interessant.

  • 44 n.C.: Apostel Jakobus word onthoof deur Herodes. Sy kop en liggaam word volgens oorlewering in ’n klipboot met ’n engel as stuurman van Palestina na Spanje vervoer.
  • 800 jaar later: Jakobus se beendere word opgegrawe op die plek waar Santiago vandag is. Dit is op dié plek waar die pelgrims vergifnis kon ontvang en dit was dan ook oor die eeue heen die motivering vir die pelgrims se pelgrimstog na Santiago.
  • 12de eeu: Priester Picaud beskryf die roete tussen die Pireneë en Santiago in sy boek.
  • Camino Francés: Omdat baie Franke die roete gestap het, word dit die Camino Francés genoem.
  • Sant (Heilige) + Iago (Jakobus) = Santiago
  • El Camino de Santiago = Die weg/pad van die Heilige Jakobus

Het jy met nuwe voornemens oor die lewe teruggekeer?

Enkele dae nadat ons begin stap het, het ek in die verbygaan vir ’n jongman gevra waarom hy die Camino stap. Hy het dit vir my so goed opgesom en die volgende gesê:

  • For the beauty
  • The climate
  • The culture
  • To exercise
  • Breathe fresh air
  • Eat good food
  • Meet people
  • For reflection on my life
  • Spiritual prayers
  • Simplicity

My niggie het die laaste een bygevoeg en dit as die tien gebooie van die Camino gedoop.

Dit som vir my die pelgrimstog in ds. Philipp Dietmann se woorde tydens een van sy meditatiewe dienste op en bevestig opnuut: “In eenvoud is God”.