Matteus 7:5. “Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.”
Die probleem én die oplossing!
’n Engelse koerant het blykbaar aan die begin van die vorige eeu ’n vraelys na ’n paar bekende outeurs uitgestuur. Hulle moes een vraag beantwoord:
“What’s wrong with the world today?” Toe sou G.K. Chesterton blykbaar so geantwoord het: “Dear Sir, I am. Yours, G.K. Chesterton.”
Ons is nie heeltemal seker of hy dit wel gedoen het nie. Nogtans het Chesterton later ’n boek geskryf met die titel: “What’s wrong with the world?”
Verseker is die probleem nie net “hulle” nie. As ons regtig verantwoordelik voor God leef, het ons die reg prysgegee om gedurig die skuld na die res te verplaas. Dan is ons self aanspreeklik voor Hom vir ons eie lewens. Dan is ons nie deel van wat ek graag noem die “NBS kultuur” nie – daardie “naming, blaming and shaming” kultuur nie. Ja, ons mag ook verkeerde dinge aanspreek, maar ons moet heel eerste sorg dat ons eie lewenshuis in orde is voor die Here.
Ons eie oogbalke moet eers verwyder word, alvorens ons splinters in ander se oë raaksien. (Stephan Joubert)
Gebed: O Here, ek bely vandag dat ek eerder die foute en tekortkominge by ander raaksien en myself dikwels verontskuldig. Help my om inderdaad eers die baie balke uit my eie oë te haal. Vandag . . . hier rondom my en in ons land met sy groot verskeidenheid mense wat anders as ek is en dink. Amen