Gedagte vir die dag | Saterdag 28 November 2020

Kolossense 1:10(b): “Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.”

Goeie vrae lei tot ’n goeie lewe!

Die Nobelpryswenner en fisikus Isidore Rabi, vertel hoedat sy maats elke dag na skool by hulle ouers een vraag gehoor het: “Wat het julle vandag geleer?” Sy ma het egter iets anders vir hom gevra: “Izzy did you ask good questions today?”

Om te vra, is om te groei. Om te vra is om te leer. Geloof in God sluit nie vrae uit nie. God kan ons vrae vat. Trouens, geloof vat dikwels pos en groei nog dieper in die omgewing van goeie vrae. Een van die beste vrae ooit word juis voor die hemel se deur gelê deur daardie groot vervolger van die kerk. Ek praat van Paulus. Hy vra sy kanonvraag op die pad na Damaskus waar hy Christene wil gaan arresteer. “Wie is U Here?” Dan hoor hy dat dit is Jesus is wie se lig nou op hom skyn. Dit is Jesus Self wie hyself besig was om te vervolg. Wat ’n goeie vraag, een wat eindig in ’n splinternuwe lewe vir Paulus.

Kortom: goeie vraag, goeie hemelse respons, goeie lewe! (Stephan Joubert)

Gebed

Dankie, Here, dat ons ons lewe lank op ’n ontdekkingstog kan wees deur U beter te leer ken. Maak my ywerig om goeie vrae te vra om meer en meer kennis oor U te verkry en daardeur geestelik te groei. Amen