Gedagte vir die dag | Vrydag 18 Desember 2020

Markus 2:3-5.  “Daar kom toe mense wat ‘n verlamde man na Hom toe bring. Vier van hulle het hom gedra. 4. Toe hulle hom weens die gedrang nie by Jesus kon kry nie, breek hulle die dak reg bokant Hom oop, en nadat hulle ’n opening in die dak gemaak het, laat hulle die draagbaar waarop die verlamde man gelê het, daardeur afsak. 5. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: “Vriend, jou sondes word vergewe!””

Die Switserse, geneeskundige Paul Tournier, vertel in een van sy boeke van twee vroue wat oor eensaamheid by hom gekla het. Die een, ‘n ongetroude middeljarige vroue het aan hom gesê dat sy voel asof sy haarself alleen op ’n stasieperon bevind. Die ander vrou wat baie jare getroud was, het weer gesê sy sien haarself soos ’n goudvis in ’n glasbak wat al in die rondte beweeg. Hoe sleg is dit? Hoe treurig kan ’n mens se lewe tog wees as ons so ’n ervaring het, selfs binne ’n huwelik.  Die ervaring dat ons nie mense het wat vir ons omgee nie, en dat ons alleen is, is baie negatief. Selfs wanneer ons tussen mense is.

Ons beweeg nader aan die Kersgety waar mense saam is. Miskien is jy saam met jou familie, of het jy herinneringe van hierdie saamwees? ’n Mens hoef nie noodwendig fisies saam met mense te wees nie.  Tussen mense kan jy ook selfs eensaam voel en al is jy ver, hoef jy nie noodwendig eensaam te wees nie. Die  verhaal van die verlamde man in Kapernaum wat na Jesus toe gebring word, waarvan ons in Markus 2 lees, is aangrypend.

Die verlamde man se familie en vriende het baie vir hom opgeoffer en dit is wat die verhaal aangrypend maak. Hulle het hom omring met hulle liefde en ondersteuning. Ons het so ’n paar Sondae terug, oor Maria Magdalena gesels.  Maria wat ook deel was van die groep vroue (Lukas 8:3) wat vir Jesus en sy twaalf dissipels uit hulle eie middelle versorg het en ’n pad met hulle geloop het.  Is die liefde van dierbares, ’n maat, ’n goeie vriend/vriendin, ouers, kinders en almal wat in my en jou belangstel nie genoeg om ons gelukkig te maak en met dankbaarheid te vul nie?

Mense wat vir jou omgee, maar in die besonder vir wie jy ook omgee en in wie se lewe jy ook ’n verskil maak? ’n Mens raak raak so dikwels gewoond aan die steun van ’n lewensmaat, die opoffering van ’n ouer, die liefde van ’n kind, of die opregte belangstelling van ’n vriend.   Kerstyd is ’n tyd van saamwees, waar ons opnuut kan dink en besin oor die mense wat vir ons omgee, en aan wie ons op een of ander manier verbind is.  Vandag by die huis, of by ’n vakansieplek, of waar jy ook al in hierdie Kerstyd gaan wees,  wees dankbaar dat daar mense is wat vir jou lief is en vir die voorreg dat jy ook aan hulle liefde kan uitdeel.

In dié tyd of in tye wat jy nie by jou geliefde is nie, is dit juis weer ’n tyd om daarop te fokus. ’n Mens kan dikwels in groepe wees, maar jy kan alleen voel, soos ek in die begin verduidelik het. Ek en jy hoef nie te voel soos ’n eensame mens op die stasieperon nie. Christus wil juis vir ons, deur sy Gees van eensaamheid verlos.  Hy het al die dakplate wat ons van God skei, verwyder. Nou kan niks ons van sy liefde skei nie.

Gebed:

Dankie vir die kind in die krip, wat in die wêreld deur die dakplate en plafon gebreek het, om vir ons ’n vriend te gee, watter vriend het ons nie in Jesus nie. Hy wat in ons plek kom staan.

Amen.