Dit is kwaliteit wat tel.
Prediker 9:10. Watter werk daar ookal vir jou is om te doen, doen dit so goed as wat jy kan, want in die dood is daar nie meer kans vir werk, of dink, of vir begrip, of insig nie. En dit is waarheen jy ook heen oppad is.
’n Mens se hart breek as jy sien hoe sommige dienste verval en hoe sekere munisipale kantore nie in staat is om hulle werk te doen nie.
Ek het onlangs op ’n kaartjie afgekom waarop ’n voedselmaatskappy hulle onderneming se visie of missie in keurige Afrikaans saamgevat het. Die kaartjie is ongeveer 20 jaar gelede gedruk. Hulle sê dan: “Ons groep is trots verbind tot die aanwending van kwaliteit mense en bates. Hoë standaarde vir huishoudings, higiëne en instandhouding en die produksie van gehalte produkte”. Verder sê hulle “as ’n Christelike gefundeerde organisasie, handel ons binne Christelike norme en verdraagsaamheid. Ons dring aan op eerlikheid en hoë integriteit van alle werknemers binne die groep, kliënte en verskaffers. Die groep se gedragskode word weerspieël deur die bestuur en al sy werkers. Dit spreek uit hulle voorkoms, hul vaardigheid, bekwaamheid en respek wat afgedwing word teen onberispelike optrede. ’n Mens voel lus om te sê: “Bravo, waar sal ’n mens dit nog kry?”
Toe ek weer daaroor lees, het ek by myself gedink, dit is nou Christen-wees in die praktyk. Christen-wees op die markplein, of die preekstoel? Geen wonder dat die onderneming fenominale groei beleef het nie. Gelukkig is daar vandag nog sulkes. Daar is nie net in die sake omgewing nie, maar in die onderwys, op mediese terreine en selfs in die kerkomgewing sulke voorbeelde. Besighede waar mense eenvoudige, toegewyde, eerlike en opregte diens lewer.
Dit is kosbaar wanneer ’n mens dit hoor en sien, veral in ons tyd, waar ons daagliks met korrupsie en gepaardgaande bedrog gekontronteer word. Dis ’n lang lys en ’n mens wil dit nie eers probeer opnoem nie. Jesus het toe die Jode teen hom opgetrek het oor ’n goeie daad wat Hy verrig het in Johannes 5:17 verklaar: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”
Daarom is werk nie net noodsaaklik om aan die lewe te bly nie, maar dit is ’n Goddelike opdrag. Ek dink ons almal ken die belangrike teksvers in Genesis 1:28: (die sogenaamde Skeppingsopdrag aan die mens): “En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” Ek onthou nog toe ek ’n student was en in Eendrag gewoon het, het oom Bun Booyens, ons inwonende hoof, hierdie teksvers op ons harte geskryf.
Wees vrugbaar, bewoon en bewerk die aarde. Alhoewel die Here toe al sy skeppingwerk voltooi het, het Hy dit nie alles toe voltooi nie. Ek en jy, die mens, moet God se werk voortsit. Die Christen sal daarom altyd ’n gehalte diens wil lewer. Dit beteken dat ons as gelowiges nie kan lyf wegsteek nie. Ons mag nie steel, of dislojaal sal wees nie, want om te werk is om God se werk, sy skeppingsopdrag voort te sit. Prediker 9: “watter werk daar ookal vir jou is, doen dit so goed jy kan. Want na die dood is daar nie meer kans vir werk nie, of dink, of vir begrip en insig nie. En dit is waarheen almal van ons oppad is.”
Gebed
Wees Christen in jou Heer versterk, want Hy wil altyd in jou werk, om kwaad en sonde te weerstrewe. Here gee dat ons ons taak met vaste hand sal verrig, en dat ons ons woord altyd gestand sal doen, dat ons daarby rein en matig sal lewe. Here, help ons om geduld daarby te hê.
Amen