Jakobus 1:5.” As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”
Ons gaan die volgende paar dae saam met Jakobus wandel. Die brief van Jakobus is waarskynlik deur Jakobus, die broer van Jesus, geskryf. Jakobus fokus veral op die praktiese sake van die Christelike lewenswandel en moedig gelowiges aan om hulle geloof prakties uit te leef.
Vandag vra Jakobus van ons om wysheid van God af te bid. Wysheid beteken nie in dié konteks om slim te wees, of om met goeie antwoorde deur die lewe te gaan nie. Wysheid in die Bybel verwys nie na blote intellektuele kennis soos die van ’n briljante Einstein, of kennis oor ’n vakgebied nie, maar na geestelike kennis en wysheid om die Here se Woord met die nodige insig en onderskeiding in ons lewens toe te pas. Wysheid beteken om sinvol te kan lewe. Die vraag na wysheid het dus eintlik met die lewe self te doen.
Waarvoor benodig jy vandag wysheid? Dalk vir die hantering van ’n krisis by die werk of ’n uitdaging in jou huwelik of met een van jou kinders? Twyfel jy of jy jou eie besigheid moet begin, of dalk moet ophou werk sodat jy meer tyd saam met jou kinders kan spandeer? Moet jy liewer aansoek doen vir ’n ander werk of moet jy aanhou werk waar jy tans werk? Is die persoon met wie jy in ’n verhouding is die regte persoon om in die huwelik mee te tree?
Onthou, geen situasie is vir God te groot of te klein om jou daarin te lei nie. As iets vir jou belangrik is, is dit vir Hom ook belangrik. In Jakobus 1:5 staan immers geskryf: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Ook in Spreuke 3:6 lees ons: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”
Gebed
Here, ek het vandag U wysheid nodig. Ek het ook U wysheid nodig vir die lewe. Die lewe het soms groot uitdagings en ek wil dit graag in lyn met u wil, leef. Gee asseblief aan my hierdie Goddelike wysheid wat ek so nodig het.
Amen