1 Korintiërs 2:16. Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word. Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge beoordeel, maar self kan hy deur geen mens beoordeel word nie. Daar staan geskrywe: “Wie ken die gedagtes van die Here? Wie sal Hom raad gee?” Maar ons, ons het die Gees van Christus.
’n Mens se brein is alewig besig om gebeurtenisse en ervarings om jou, te weeg en te beoordeel. Ons is voortdurend met probleemoplossing besig en daar is mos oorgenoeg probleme wat ons snags laat wakker lê en soveel gebeure wat ons nooit sal verstaan nie. Paulus gee aan ons as gelowiges, ’n dieper insig in hierdie realiteit. God se Gees skuif op bepaalde maniere onder ons denke en gevoelens in en bring ons tot insigte wat nie maklik in woorde omskryf kan word nie, maar wat deur geloof, hoop en liefde prakties in ons lewe gestalte kry. Bevind jy jouself in die frustrerende situasie waar probleme alewig jou lewe oorheers? Vind dan jou sekuriteit en rus in die bekende woorde van Paulus in Romeine 8:26-27. “Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges”.
Gebed (Liedboek 436)
Herskep o Gees, laat leef o Gees, laat kom die koninkryk met mag, laat mense tot aanbidding kom, oorreed deur U oortuigingskrag. Herskep, o Gees, laat ons herleef, maak wakker elkeen in U kerk. Laat ons uit God se liefde leef, en dankbaar waak en bid en werk.