Gedagte vir die dag | Maandag 2 November

Handelinge 1:8.  Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.

Ek skryf vanoggend hierdie dagstukkie op Vosburg, diep in die Groot-Karoo. Die Karoo is droog, maar daar is tog tekens van hoop en reën en dit bly steeds vir my persoonlik, een van die mooiste plekke op aarde.

Saam met my, in Vosburg, is ’n span van 30 ywerige, jongmense wat uitreik na die plaaslike bruin gemeenskap van Vosburg, maar ook na die dorp se inwoners en die boere in die gemeenskap. Ek is weereens so bemoedig deur die diensbaarheid en ywer van hierdie klompie jong dissipels van Jesus Christus. Hulle  optrede, hoe hulle met die kinders speel, hoe hulle hoop bring en van soggens tot laat saans hulle absolute beste gee om getuies van Jesus Christus te wees, is werklik inspirerend.

Selfs tydens dié moeilike jaar met grendeltyd en ander uitdagings offer die jongmense hulle enigste vakansie van die jaar op, om hierheen te kom en te midde van die Karoo-hitte te dien,  omdat hulle glo dat die Here wat hulle volg,  hul ernstig in sy woord versoek het om dit te doen.

Ja, hulle is getuies, nie net uitreikers nie. Hulle getuig van ’n God wat deur Jesus Christus waar geword het in hul eie lewe. Hulle getuig van die vreugde wat gepaard gaan met die verbintenis van hul Verlosser, Jesus Christus. Hulle getuig van dit wat Jesus in hulle harte rakende ander mense laat gebeur het. Hulle deernis, hulle omgee vir ander in nood, spesifiek dan hier, die nood in die Karoo met sy eiesoortige probleme soos droogtes, hooploosheid en armoede. Hier wil hulle getuies wees van ’n God wat hoop bring en ’n God wat liefhet en omgee.

Vriende, hoe vaar elkeen van ons wat nou hierdie dagstukke lees, of daarna luister, in die verbanv? Hoe vaar ons elkeen as getuies? Getuig ons, deel ons, vertel ons nog die beste nuus ooit . . . die nuus wat nooit ounuus raak nie. Die nuus dat Jesus omgee, liefhet, verlos, uithelp? Getuig ons van dié Een wat ons eie lewe kom verander het? Hy het vir ons ’n nuwe lewensdoel, sin en hoop  vir ons lewens gevestig. Of val ons dalk in by ’n koor wat elke dag getuig oor hoe sleg alles rondom ons is en hoe alles vergaan? Is jy ’n getuie….? Waarvan getuig en oor wie getuig jy…..?

Die wêreld is despreraat om die getuienis van Jesus se volgelinge te hoor, omdat dit die beste nuus is wat die wêreld kan verander!

Gebed

Here, ek faal so baie in die uitvoering van U groot opdrag. Dankie, dat U vanoggend in hierdie teksvers ook vir my belowe, dat U vir my krag sal gee, die krag van die Heilige Gees, om my te help om ’n getuie van U in ons wêreld te wees. Amen.