Gedagte vir die dag | Sondag 1 November 2020

Levitikus 19:2. Praat met die hele gemeente Israel en sê vir hulle: “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.”

Gister het ons aandag gegee aan die onbeskryflike driemaal-heiligheid van God. Dié een wat alle tye oorspan!  Ons het toe gesien dat heiligheid is een van God die Almagtige se besondere eienskappe. Hy is dit in Homself, en hierdie heiligheidstatus van God word dan ook veral in Levitikus vir sy volk as die sogenaamde heiligheidskode voorgeskryf.

God se volk, ontvang die opdrag om op grond van God se heiligheid, ook heilig te wees. Hulle moet onderskeibaar anders wees, in hul optrede, lewens, verhoudings en lewensuitkyk.  Hulle moet daagliks deur hulle leefwyse iets van die heiligheid van God illustreer. Hul heiligheid beteken dan ook dat hulle anders moet lewe as mense wat God nie ken nie, omdat hulle eksklusief aan God behoort.

Petrus volg dit op in sy eerste brief waar hy met gemeentelede, volgelinge van Jesus, praat.  Hulle ontvang ook dieselfde opdrag tot heiligheid, gegrond en gemotiveerd deur God se heiligheid. Tussen ongelowiges in die verskillende provinsies in klein Asia, moet hulle heiligheid hulle juis as volgelinge van Christus onderskei.  Dit is dan ook nie allereers morele en etiese heiligheid soos byvoorbeeld onsedelikheid nie, maar dit impliseer dat hulle deur God geroep is en afgesonder is om eksklusief aan Hom te behoort.

Ja hierdie, soms vreemde status van heiligheid, word ook ons status! Die eienskappe waaraan ons uitgeken moet word in ons eie moderne wêreld, ons omgewing en leefwêreld. Geroep, en afgesonder vir diens aan God!  Dikwels word “heiligheid” spottenderwyse gebruik wanneer dit verwytend of vermakerig gesê word: “ag jy probeer jou heilig hou”, of “dis nou ’n regte holy Joe daardie.”

Vriende, is ons onderskeibaar anders in ’n wêreld, of omgewing wat nie aan God behoort nie? Onderskei die feit dat ons ’n heilige God aanbid en  wat dieselfde kwaliteit van heiligheid aan ons voorskryf, ons daaglikse lewenswyse?

Gebed

Here, help ons om soos U, in alles heiligheid na te streef. Sodat ons in alles in die wêreld kenbaar sal wees as mense wat vir God afgesonder is. Amen