Klaagliedere 3:18: “Ek het gedink dis klaar met my en my hoop op die Here”.
Die woord, klaagliedere, is lank reeds in die volksmond opgeneem as ’n uitdrukking, of verwysing na iemand wat baie kla. As daar iemand is wat baie kla, dan word daar dikwels na hom/haar as ’n regte Klaagliedere van Jeremia, verwys.
Ek het as kind hierdie boek in die Bybel vermy. Dit was vir my altyd so ’n neerdrukkende boek wat te negatief en pessimisties na my smaak was. Tot op ’n dag wat my oorlede pa gesê het dat dit een van sy gunsteling Bybelboeke is omdat dit so baie troosvolle waarhede bevat wat selfs midde in krisisse en neerdrukkende situasies toepaslik is.
Ons ken die agtergrond van Jeremia se klaagliedere, sy hartverskeurende “lament” of weeklaag oor sy volk se situasie. Hy is in diep rou, en berou oor sy volk! Hy ervaar dat God hulle verwerp het, van hulle weg gekeer het en hulle in ballingskap in ’n vreemde land vas gegrendel het.
Dan hoor ons sy desperate uitroep in Hoofstuk 3:18: “Ek het gedink dit is klaar met my en my hoop op die Here”. Sjoe, dis ernstige, seer woorde! Sy krisis en die krisis van sy volk het groter geword as sy hoop op die Here! Moeilikheid en gebrokenheid wat sy hoop op God wou kanselleer.
Vriende, is ons nie soms ook geneig om nou te wees daar waar Jeremia was nie? Miskien veral gedurende dié jaar met sy uitmergelende uitdagings. Met alles wat bloei, en laat bloei – die ekonomie, Covid-19, rasseverhoudings, fisiese en-geestelike gesondheidskrisisse, familieverhoudings, misdaad en geweld . . . ? Dit alles het ons vanjaar baie persoonlik, diep en seer kom aanraak, meer as ooit tevore. Roep, of huil jy dalk ook uit in ’n klaaglied, ’n weeklaag, ’n desperate versugting soos Jeremia wat gedink het hy het aan die einde van sy hoop met die Here gekom.
Word stil met hierdie vraag, oordink dit baie eerlik en deurbid dit vandag na aanleiding van jou eie ervarings. Ervaar jy dalk ook dat jy by die einde van jou hoop in God gekom het? Dat jy nie meer ’n lig in die tonnel sien nie? Praat vandag met God daaroor. Ons kyk môre na die ontknoping van Jeremia se krisis en hoe sy hoopkanaal weer oopgegaan het.
Gebed
Here, U ken my hart, U ken my onsekerheid. U weet ook hoe my omstandighede my soms daartoe bring om te sê: “ek het gedink dit is klaar met my en my hoop op die Here”
Dankie dat U dit, en my, verstaan. Amen.