2 Korinthiërs 4:16: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.”
Alhoewel die Amerikaaanse skrywer Damon Runyon se boeke meestal oor skurke en kriminele in New York gaan, was die gewilde skrywer self ook ’n diep gelowige man. Maar dit het hom nie verhinder om oor die dood met ’n skalkse humor te skryf nie. Soos toe hy geskryf het oor die dood wat hom in 1944 besoek het, maar toe ontdek hy dat dit te gou gekom het en weer moes vertrek.
Ek onthou ook ’n oom, Hannes van Wyk, wat in die Paarl gewoon het, en kanker gekry het. Hy besef toe op ’n stadium dat hy op die einde van sy lewe is, en het al sy kinders bymekaar gemaak en al sy besittings aan hulle uitgedeel. Hy was boonop ’n redelik grapjas . . . en toe sy beplanning nie uitwerk soos wat hy gedink het nie, het hy die kinders weer bymekaar geroep en gevra dat hulle eers weer van die goed moet terug gee, want hy leef nou baie langer as wat hy gedink het!
Runyon skryf onder andere dat hy onwillekeurig aan Koning Agag, die verslaande koning van die Amalakiete gedink het. Volgens die Bybelse verhaal het Samuel, nadat hy die goddelose koning se volgelinge om die lewe gebring het, ook vir Agag laat kom. En dan lees ons daar in 1 Samuel 15:32: “Agag het opgeruimd na hom toe geloop en gesê: Nou is ek nie meer bang dat hulle my sal doodmaak nie.” Die volgende oomblik het Samuel egter ook oor hom die doodsvonnis uitgespreek. Dit het in daardie dae maar dikwels rof gegaan.
So kan die einde vir ons elkeen onverwags kom. En dan word ons tot verantwoording geroep en is dit te laat om soos Agag met ’n opgeruimde gesig ons verlede te probeer weglag. Dit laat my dink aan die storie van oom Swart Adriaan, soos hy bekend gestaan het, vir wie die predikant in die Suid-Kaap, nooit vir huisbesoek by die huis kon kry nie. Daardie tyd het die dominee mos die mense op die plaas besoek. En toe betrap die predikant hom toe eendag net voor hy by die plaashek wil uit. Die dominees sê toe spottenderwys: “So loop ons mekaar toe uiteindelik raak”. Maar oom Adriaan het baie bedees geantwoord: “Ja dominee, selfs berge ontmoet mekaar, waarom dan nie ook mense nie?”
Daar sal vir ons almal een of ander tyd ’n oomblik van waarheid aanbreek. Ons dink die berge wat mekaar spreekwoordelik ontmoet, lê nog ver vir ons. Daarom het die profeet Amos ook sy volk gewaarsku in Amos 4:12: “Maak jou klaar om voor God te verskyn.
Maar is ons regtig gereed om die Here te ontmoet? Gelukkig kan daardie ontmoeting vir elkeen wat gereed is ’n vreugdevolle oomblik wees. Nie een van ons wil sommer net nou al doodgaan nie, maar ons hoef nie bang te wees daarvoor nie. ’n Ou vriend herinner my onlangs daaraan dat God anders somme maak as ons, want hy tel nie op nie, hy trek al ons sondes af waarvoor Jesus aan die kruis betaal het.
Gebed
Here, dankie dat ons elke dag uit u genade kan leef. Help ons om so te leef dat ons U enige tyd kan ontmoet. Gee vir ons die vermoë om elke dag aan te gryp en voluit as u kinders te leef en ’n gestalte te wees van liefde en diensbaarheid tot seën vir ander.