Númeri 17:8. “Toe Moses die volgende môre by die tent met die getuienis kom, was daar botsels aan die kierie van Aäron, wat daar was vir die stam Levi. Trouens, daar was nie net botsels aan nie, daar was ook bloeisels en dit het selfs ryp amandels gedra. 9Moses het toe al die kieries wat in die heiligdom was, na Israel toe uitgebring, en hulle het dit gesien, en elke leier het sy eie kierie gevat.”
Daar is nie so baie verwysings na bloeisels en blomme in die Bybel nie en ons is nou in ’n tyd van die jaar waar die bloeisels mooi uitloop. Vanuit my kamervenster is daar so vyf Krismisrose wat begin uitloop het. Ek verwonder my elke jaar aan hierdie tyd van die jaar wanneer die bloeisels uitstoot en dan in besonder die krismisrose. Ek het ’n rukkie gelede met ’n Engelse persoon gesels oor krismisrose en o my aarde, daar kon die naam vir ’n krismisroos in Engels my nie byval nie. Intussen het ek uitgevind dis Hydrangeas.
Dis nogals opvallend hoe baie struike- en boomname met mense en karaktertrekke ooreenkom. Ek weet nie of die Krismisrose se naam te doen het met die mooi blomme wat veral in die Kerstyd hier by ons sigbaar raak nie, maar Afrikaanse boom-en struikname soos die Kanniedood, Haak-en-steek, Treurwilger, Raasblaar, Deurmekaarbos en Wag-’n-bietjie en dan kry mens nog die seldsame Boom-sonder-naam, amper soos band-sonder-naam, is almal beskrywend van die plantsoort en karaktertrekke in mense. Kom ons begin maar by onsself. Hoe sien ander mense ons? Om nie eers van ons Almagtige Skepper te praat nie.
Is ek ’n Haak-en-steek – altyd besig om ander mense met my optrede en woorde seer te maak en terselftertyd sommer soos die Raasblaar ook te klink. En tog sê die Bybel duidelik in Romeine 12:18: “As dit moontlik is sovêr dit van jou afhang, leef in vrede met alle mense”, of dalk is ek soos die Deurmekaarbos, ’n ongedissiplineerde mens wat alles half doen, terwyl ek soos die Bybel sê: “Alles moet doen asof ek dit vir die Here doen”. Of net so erg, is ek soos die Wag-’n-bietjie en Treurwilger, die uitstellers en die swartgalliges wat vergeet dat Jesus na ons gekom het om blydskap en vreugde te bring en so word ek as ware ’n Boom-sonder-naam en ’n mens wat niemand besiel nie, omdat ek nie gewillig is om ’n Kannie-dood te wees wat in die moeilikste omstandighede kan oorleef nie.
Mense en bome – die moeilikheid het by ’n boom begin waar die eerste mense tot ongehoorsaamheid verlei is. Gelukkig het ons verlossing ook plaasgevind by ’n boom in die vorm van ’n houtkruis op ’n heuwel waar Jesus met sy lewe vir al ons tekortkominge betaal het. Wie by die kruis kniel, se oë gaan heeltemal oop.
Ons lees hier in Numberi 17 van die wonderwerk van die bloeisels aan die kierie van Aaron. Daar staan trouens dat daar nie net botsels aan die kierie was nie, maar dat daar ook bloeisels was. Dit het selfs ryp Amandels gedra. Net soos ons, ons in hierdie tyd aan die blomme en die bloeisels wat na die winter uitstoot, verwonder moet ons daarna streef dat simboliese blomme en vrugte, na die inperkingstyd, in elkeen van ons se lewens sigbaar sal wees. Laat ons ook op dieselfde unieke wyse waarop die Krismisrose kleur aan tuine en huise gee, kleur aan ander mense se lewens bring. Eers dan word ons Kannie-dood Christene in God se diens.
Gebed
Here, gee ons die genade om bloeisels navore te bring. Dankie, dat U die oorsprong van ons vreugde, groei en die sonskyn wat ons in mense se lewens kan wees, is. Dankie, dat ons so genadig kan word deur die krag van die gees, in ons lewens. Amen.